Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 11:16-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Toe dink ek aan die woorde van die Here toe Hy gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar júlle sal met die Heilige Gees gedoop word.’

17. Aangesien God dan dieselfde geskenk aan die nie-Jode gegee het as aan ons toe ons tot geloof in die Here Jesus Christus gekom het, watter reg het ék om God te keer?”

18. Toe hulle dit hoor, het hulle stil geraak. Hulle het God begin prys en gesê: “God het selfs nie-Jode tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”

19. Dié wat uit Jerusalem gevlug het oor die vervolging ná Stefanus se dood, het na Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan. Hulle het die evangelie verkondig, maar net aan Jode.

20. Daar was egter sekere Sipriese en Sireniese mans wat in Antiogië gekom en ook aan die Griekssprekendes die Goeie Nuus verkondig het dat Jesus die Here is.

21. Die Here het hulle werk geseën sodat ’n groot aantal tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het.

22. Toe die gemeente in Jerusalem hoor wat gebeur het, het hulle Barnabas Antiogië toe gestuur.

23. Toe hy daar kom en sien hoe God in sy genade onder hulle gewerk het, was hy bly. Hy het hulle almal aangespoor om lojaal aan die Here te bly.

24. Barnabas was ’n goeie man, vol van die Heilige Gees en van geloof. ’n Aansienlike groep mense is na die Here toe gebring.

25. Barnabas is daarna Tarsus toe om vir Saulus te gaan soek.

26. Toe hy hom kry, het hy hom Antiogië toe gebring. En so het dit gekom dat hulle twee ’n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en ’n taamlike klomp mense onderrig het. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.

27. In dié tyd het profete van Jerusalem af na Antiogië toe gekom.

28. Een van hulle, met die naam Agabus, het tydens ’n byeenkoms opgestaan en is deur die Gees gelei om te voorspel dat ’n groot hongersnood die hele Romeinse wêreld gaan tref. (Dit het dan ook in die tyd van keiser Claudius gebeur.)

29. Die gelowiges in Antiogië het toe besluit dat elkeen van hulle na sy vermoë sou bydra tot ’n hulpfonds wat vir hulle medegelowiges in Judea gestuur sou word.

30. Hulle het dit toe gedoen en die geld met Barnabas en Saulus aan die ouderlinge in Jerusalem gestuur.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 11