Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 6:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Broers en susters, wanneer iemand in die een of ander sonde verval, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp. Wees baie versigtig dat jy nie ook versoek word nie.

2. Help ander gelowiges wat swaarkry, en gee só uitvoering aan Christus se liefdeswet.

3. Julle weet dat mense wat baie van hulleself dink, terwyl hulle niks is nie, hulleself bedrieg.

4. Daarom moet julle almal eerder julle eie gedrag toets. Dan kan julle op julleself trots wees, sonder om julle met iemand anders te vergelyk.

5. Ons weet tog: Almal sal oor hulleself verantwoording moet doen.

6. Iemand wat in die woord van God onderrig word, moet dié een wat onderrig gee, in alle goeie dinge laat deel.

7. Moenie ’n fout maak nie. God laat nie met Hom spot nie: Wat mense saai, sal hulle ook maai!

8. Hulle wat op die land van hulle sondige geaardheid saai, sal op grond daarvan die dood oes, terwyl hulle wat op die land van die Gees saai, op grond daarvan die ewige lewe sal oes.

9. Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 6