Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 3:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. O, dwase Galasiërs! Wie het julle getoor? Christus is dan só duidelik vir julle beskryf dat julle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang!

2. Ek wil net dit vir julle vra: Het julle die Gees ontvang deur die wet te onderhou of deur te glo wat julle gehoor het?

3. Hoe kan julle so dwaas wees? Wil julle dit wat die Gees in julle begin het, nou uit eie krag probeer klaarmaak?

4. Was al die goeie dinge wat julle beleef het, dan tevergeefs? Dit kon tog nie tevergeefs gewees het nie!

5. Vra julle dus af: Het God die Gees vir julle gegee en wonders onder julle bewerk omdat julle die wet onderhou of omdat julle geglo het wat julle gehoor het?

6. So was dit ook met Abraham: “Hy het God geglo en God het hom vrygespreek.”

7. Julle moet dus insien: Die ware kinders van Abraham is hulle wat glo.

8. Verder het die Skrif vooruit gesien dat God nie-Jode deur geloof sou vryspreek. Daarom is die Goeie Nuus vooraf aan Abraham bekendgemaak: “Deur jou sal al die volke geseën wees.”

9. Almal wat glo, word gevolglik geseën saam met die gelowige Abraham.

10. Maar elkeen wat op die onderhouding van die wet vertrou om deur God vrygespreek te word, is vervloek. Die Skrif sê mos: “Vervloek is elkeen wat nie alles doen wat in die boek van die wet geskryf staan nie.”

11. Dit is dus duidelik dat niemand deur God vrygespreek word op grond van wetsonderhouding nie. Daar staan geskryf: “Wie deur gelóóf vrygespreek word, sal lewe.”

12. Maar by die wet speel geloof geen rol nie, want daar staan: “Wie dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe.”

13. Christus het ons losgekoop van die vloek wat op wetsoortreders rus toe Hy vir ons ’n vervloekte geword het. Daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ’n paal hang.”

14. Dit wat Christus Jesus gedoen het, het tot gevolg dat ook die nie-Joodse nasies deel kry aan Abraham se seën. Dit beteken dat ons deur die geloof die Gees wat belowe is, ontvang.

15. Broers en susters, ek gebruik nou ’n alledaagse voorbeeld. As ’n ooreenkoms, al is dit mensewerk, eers gesluit is, kan niemand dit ongeldig verklaar of iets daarby voeg nie.

16. My argument is: God het sy beloftes aan Abraham en sy nakomeling gegee. Daar staan nie “nakomelinge” asof baie mense bedoel word nie, maar dit gaan om één persoon. Met “sy nakomeling” word Christus bedoel.

17. Ek sê dus: Die verbond wat God met Abraham gesluit het, kan nie deur die wet, wat 430 jaar later gekom het, ongeldig gemaak en daarmee ook die belofte ongedaan gemaak word nie.

18. As wetsgehoorsaamheid ’n mens die erfenis kan laat ontvang, word dit nie meer ontvang omdat God dit beloof het nie. God het egter juis sy genade deur ’n belofte aan Abraham gegee.

19. Waarom dan die wet? Dit het bygekom met die oog op die sonde totdat die “Nakomeling” op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van ’n tussenganger aan Israel gegee.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 3