Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 5:3-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Soos dit pas by mense wat aan God behoort, moet daar onder julle geen sprake wees van seksuele sondes, immorele optredes of gierigheid nie.

4. Ook skurwe stories, ligsinnige praatjies en vulgêre grappe pas nie by julle nie. Wat by julle pas, is om God te dank.

5. Want hiervan kan julle seker wees: niemand wat seksuele sondes en immorele dade doen, en niemand wat gierig lewe – so iemand dien immers ’n afgod – sal ’n erfdeel ontvang in die koninkryk van Christus en van God nie.

6. Moenie om die bos gelei word deur mense wat verskonings soek vir hierdie sondes nie. Die feit is: omdat mense deur sulke dinge aan God ongehoorsaam is, word hulle deur sy straf getref.

7. Dus: moenie saam met hulle aan hierdie dinge deelneem nie.

8. Julle lewe was vroeër nag! Nou egter, deur julle verbondenheid met die Here, is julle inderdaad die ene lig. Leef dan soos mense van die lig.

9. Uit dié lig kom mos alles wat goed en reg en waar is.

10. Vind uit watter dinge die Here tevrede stel

11. en moenie aanhou deelneem aan die nuttelose werke van die duisternis nie. Nee, ontmasker eerder hierdie werke,

12. want mense doen in die geheim dinge wat te skandelik is vir woorde.

13. Maar as die lig daarop skyn, kom alle dinge se ware karakter aan die lig,

14. en alles waarvan die ware karakter aan die lig kom, is self lig. Daarom sê die lied:“Word wakker, jy wat slaap;staan op uit die dood,en Christus sal jou verlig!”

15. Wees dus baie versigtig hoe julle lewe. Moenie soos dwase mense leef nie, leef wys!

16. Benut elke geskikte geleentheid, want ons lewe in slegte tye.

17. Moenie ondeurdag optree nie, maar probeer uitvind wat God se wil is.

18. Verder, moenie soveel wyn drink dat julle dronk word nie, dit lei tot uitspattige gedrag. Nee, laat die Heilige Gees julle lewe vol maak

Lees volledige hoofstuk Efesiërs 5