hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Lewe in die lig

1. Omdat julle God se kinders is wat Hy liefhet, moet julle sy voorbeeld volg.

2. Ja, leef ’n lewe van liefde soos ook Christus ons liefgehad het deur Homself vir ons oor te gee as ’n lieflike reukoffer aan God.

3. Soos dit pas by mense wat aan God behoort, moet daar onder julle geen sprake wees van seksuele sondes, immorele optredes of gierigheid nie.

4. Ook skurwe stories, ligsinnige praatjies en vulgêre grappe pas nie by julle nie. Wat by julle pas, is om God te dank.

5. Want hiervan kan julle seker wees: niemand wat seksuele sondes en immorele dade doen, en niemand wat gierig lewe – so iemand dien immers ’n afgod – sal ’n erfdeel ontvang in die koninkryk van Christus en van God nie.

6. Moenie om die bos gelei word deur mense wat verskonings soek vir hierdie sondes nie. Die feit is: omdat mense deur sulke dinge aan God ongehoorsaam is, word hulle deur sy straf getref.

7. Dus: moenie saam met hulle aan hierdie dinge deelneem nie.

8. Julle lewe was vroeër nag! Nou egter, deur julle verbondenheid met die Here, is julle inderdaad die ene lig. Leef dan soos mense van die lig.

9. Uit dié lig kom mos alles wat goed en reg en waar is.

10. Vind uit watter dinge die Here tevrede stel

11. en moenie aanhou deelneem aan die nuttelose werke van die duisternis nie. Nee, ontmasker eerder hierdie werke,

12. want mense doen in die geheim dinge wat te skandelik is vir woorde.

13. Maar as die lig daarop skyn, kom alle dinge se ware karakter aan die lig,

14. en alles waarvan die ware karakter aan die lig kom, is self lig. Daarom sê die lied:“Word wakker, jy wat slaap;staan op uit die dood,en Christus sal jou verlig!”

Leef Geesvervul!

15. Wees dus baie versigtig hoe julle lewe. Moenie soos dwase mense leef nie, leef wys!

16. Benut elke geskikte geleentheid, want ons lewe in slegte tye.

17. Moenie ondeurdag optree nie, maar probeer uitvind wat God se wil is.

18. Verder, moenie soveel wyn drink dat julle dronk word nie, dit lei tot uitspattige gedrag. Nee, laat die Heilige Gees julle lewe vol maak

19. en sing saam psalms en lofgesange en geestelike liedere. Sing en jubel met julle hele hart tot eer van die Here.

20. Sê altyd in die Naam van ons Here Jesus Christus vir God die Vader dankie vir alle dinge.

Die Christelike huwelik

21. Omdat julle respek het vir Christus, moet julle aan mekaar onderdanig wees.

22. Vroue, julle moet aan julle mans onderdanig wees, soos aan die Here.

23. Op dieselfde manier wat Christus hoof is van die kerk, is ’n man hoof van sy vrou. Christus het sulke hoofskap uitgeoefen toe Hy die kerk verlos het.

24. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet julle, vroue, in alles elkeen aan julle eie man onderdanig wees.

25. Mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus die kerk liefgehad het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het

26. om só die kerk aan God toe te wy nadat Hy die kerk met die water en deur die woord gereinig het en

27. sodat Hy die kerk in al sy skoonheid voor Hom kan stel, nie met enige vlek of plooi of enige ander onsierlikheid nie, maar aan God toegewy en onberispelik.

28. Op dieselfde manier moet mans hulle eie vroue liefhê. Hulle moet hulle liefhê asof hulle hulle eie liggame is. ’n Man wat sy eie vrou liefhet, het dus eintlik homself lief.

29. ’n Mens haat mos nie jou liggaam nie, maar voed en versorg dit. Christus maak net so met ons, die kerk,

30. omdat ons ledemate van sy liggaam is.

31. Daar staan mos: “’n Man sal weggaan van sy pa en ma en een word met sy vrou, en hulle twee sal een wees.”

32. Dit is eintlik ’n diep geheim, en ek noem dit om die verhouding tussen Christus en die kerk te beskryf.

33. Dit geld egter ook vir julle: Elkeen van julle moet sy eie vrou liefhê soos hy homself liefhet, en die vrou moet haar man respekteer.