Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 2:5-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. dat toe ons verkeerde lewe ons geestelike dood veroorsaak het, Hy ons saam met Christus lewend gemaak het. Dis dus God se genade wat maak dat julle verlos is!

6. Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ’n sitplek in die hemel gegee.

7. So sal God ook in die tye wat kom, bewys dat Hy heeltemal oorloop van genade. Die goedheid wat God ons deur Christus Jesus gegee het, sal as bewys dien.

8. Dit is mos dié genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom nie uit julleself nie, maar is ’n gawe van God.

9. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie,

10. want ons is God se handewerk. Hy het ons in ons eenheidsband met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.

11. Dink daarom aan die tyd toe julle wat as nie-Jode gebore is, “onbesnedenes” genoem is deur dié wat “besnedenes” genoem word – al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam.

12. Dink daaraan dat julle toe sonder Christus was, nie burgers van God se volk nie, uitlanders wat nie deel gehad het aan die beloftes van die verbonde nie. Julle was sonder toekomsverwagting en sonder God in die wêreld.

13. Maar nou het julle wat toe ver weg was, deur julle verhouding met Christus naby gekom. Dit is moontlik gemaak deur Christus se dood aan die kruis.

14. Christus het inderdaad vrede tussen ons gebring. Deur sy liggaam aan die kruis te gee het Hy die twee groepe één gemaak; ja, die muur van vyandskap het Hy afgebreek.

15. Hy het ’n einde gemaak aan die wet met sy voorskrifte. Hy het vrede gebring deur in Homself die twee groepe tot een nuwe mensheid te omskep.

16. Ja, deur sy dood aan die kruis het Hy die vyandskap beëindig. Só het Hy albei groepe in een liggaam met God versoen.

Lees volledige hoofstuk Efesiërs 2