Ou Testament

Nuwe Testament

2 Timoteus 1:8-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Jy moet dus nooit skaam wees om van ons Here te getuig nie. En moet jou ook nie vir my skaam nie, al is ek ook in die tronk ter wille van Christus. Met die krag wat God jou gee, moet jy gereed wees om saam met my vir die uitdra van die Goeie Nuus te ly.

9. Dit is God wat ons verlos en gekies het om ’n toegewyde lewe te lei. Hy het dit gedoen, nie omdat ons dit verdien het nie, maar omdat dit sy plan was lank voor die begin van die wêreld, naamlik om sy genade aan ons te bewys deur Christus Jesus.

10. En nou het Hy dit alles aan ons duidelik gemaakdeur die koms van Christus Jesus, ons Verlosser, wat die mag van die dood verbreek heten aan ons, deur die Goeie Nuus, die weg gewys het na die onverganklike lewe.

11. En God het my gekies om ’n prediker te wees, ’n apostel en ’n leermeester van dié Nuus.

12. Dit is waarom ek hier in die tronk ly. Maar ek is nie skaam daaroor nie, want ek ken die Een op wie ek vertrou en ek is seker dat Hy sal bewaar wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag van sy koms.

13. Hou vas aan die maatstaf van gesonde lering wat jy van my geleer het. En onthou om te lewe in die geloof en liefde wat jy in Christus Jesus het.

14. Bewaar met die hulp van die Heilige Gees wat in ons woon, die kosbare skat wat aan jou toevertrou is.

15. Soos jy weet, het al die Christene wat uit die provinsie Asië hier aangekom het, my in die steek gelaat – selfs Figelus en Hermogenes is weg.

16. Mag die Here ontferming aan Onesiforus en sy hele huishouding bewys, want hulle het my dikwels besoek en bemoedig. Hy was nooit skaam omdat ek in die tronk is nie.

17. Toe hy na Rome toe gekom het, het hy oral gesoek totdat hy my gekry het.

Lees volledige hoofstuk 2 Timoteus 1