Ou Testament

Nuwe Testament

2 Petrus 1:2-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Mag die genade en vrede van God steeds meer en meer julle deel wees deurdat julle God en Jesus Christus ons Here regtig ken.

3. Deurdat ons Hom regtig ken, het sy Goddelike krag ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe. Hy het ons geroep om sy heerlikheid en goedheid te ontvang!

4. Deur hierdie selfde krag het Hy sy kosbaarste en allergrootste beloftes vir ons laat waar word. Die gevolg hiervan is dat julle deel gekry het aan sy Goddelike natuur. Só het julle vrygekom van die proses van agteruitgang wat, as gevolg van die neigings van ons menslike natuur, oral alles en almal laat sleg word.

5. Juis om hierdie rede moet julle alles in julle vermoë doen om te wys dat hierdie beloftes vir julle waar geword het. Dan sal julle geloof meebring dat julle leefstyl goed is. ’n Goeie leefstyl bring weer mee dat jy God beter leer ken.

6. As ’n mens God ken, kan jy jouself dissiplineer. Selfdissipline bring weer mee dat ’n mens kan uithou en aanhou, en hierdie volharding loop uit op ’n lewe naby aan God.

7. ’n Lewe naby aan God skep liefde vir ander gelowiges, en uiteindelik is dit hierdie positiewe houding teenoor medegelowiges wat meebring dat jy almal liefhet.

8. Hoe meer julle op hierdie wyse groei, hoe meer sal die feit dat julle ons Here Jesus Christus ken, veroorsaak dat julle nie nutteloos en geestelik onproduktief is nie.

9. Mense wie se lewe nie wys dat God se beloftes in hulle waar geword het nie, is blind, of – ten minste – kortsigtig. Hulle het klaar vergeet dat God hulle gereinig het van hulle vorige sondige leefstyl.

Lees volledige hoofstuk 2 Petrus 1