Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 8:12-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. As die geesdrif daar is en julle gee volgens wat julle het, is die gawe aanneemlik. Julle hoef nie meer as dit te gee nie.

13. Dit beteken egter nie dat hulpbetoon aan ander julle moet laat swaarkry nie. Dit is eerder ’n geval van balans.

14. Daar moet ’n balans wees tussen julle huidige oorvloed en hulle gebrek. Dan kan hulle oorvloed weer vir julle gebrek aangewend word. Op só ’n manier kom daar ewewig.

15. Soos daar geskryf staan:“Die een met baie,het nie te veel gehad nie;en die een met ’n bietjie,nie te min nie.”

16. Ek is dankbaar teenoor God dat Hy Titus net so entoesiasties gemaak het om julle te help as wat ons is.

17. Hy het nie net ons ernstige versoek verwelkom nie, maar in sy ywer op sy eie na julle toe vertrek.

18. Saam met hom stuur ons die broer wat in al die gemeentes geprys word vir sy rol in diens van die evangelie.

19. Nie net dit nie, maar die broer is ook deur die gemeentes gekies as ons reisgenoot in hierdie liefdesdiens wat deur ons verrig word. Ons doen dit tot eer van die Here en as bewys van ons goeie trou.

20. Sodoende voorkom ons dat iemand ons sou verdink in verband met só ’n aansienlike som geld wat ons moet hanteer.

21. Ons is daarop bedag om eerbaar voor die Here op te tree, maar ook voor die mense.

22. Saam met hulle stuur ons ook nog ’n broer. Ons het hom dikwels en op baie maniere getoets en bevind dat hy ywerig is. Hy is nou nog baie yweriger omdat hy groot vertroue het in julle.

23. Wat Titus betref, hy is my kollega en medewerker in julle belang. Verder, wat ons broers betref, hulle is verteenwoordigers van die gemeentes en ’n eer vir Christus.

24. Betoon aan hulle julle liefde en laat die gemeentes duidelik sien dat ons rede het om trots te wees op julle.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 8