Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 5:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Ons weet dat wanneer ons aardse verblyf, wat net ’n tentwoning is, afgebreek word, ons ’n permanente blyplek by God het, ’n huis wat nie met hande gebou is nie, maar wat vir altyd in die hemel bestaan.

2. In hierdie tentwoning swoeg en kreun ons, want ons verlang daarna om ons hemelse woning te betrek.

3. As ons tog maar net met klere aan, en nie kaal nie, voor God sal mag staan!

4. Terwyl ons nog in die aardse tentwoning bly, kry ons swaar en kreun ons omdat ons nie gestroop wil word van ons aardse woning nie, maar met die hemelse woning beklee wil word. So sal wat sterflik is, verteer word deur die eintlike lewe.

5. Hy wat ons hiervoor gereedgemaak het, is God. Hy het aan ons die deposito van die Gees as waarborg gegee.

6. Ons is dus altyd vol moed omdat ons weet dat alhoewel ons nog in die liggaam woon, ons eintlike woning by die Here is;

7. want ons leef deur te glo en nie deur te sien nie.

8. Ons hou moed, maar sou liewer uit die liggaam wil verhuis om by die Here te gaan woon.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 5