Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 11:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Ek wil hê dat julle geduldig met my moet wees as ek ’n bietjie dwaasheid kwytraak. Verdra my tog maar, asseblief!

2. Ek is jaloers oor julle eer, want julle is soos ’n jong meisie wat ek aan net een bruidegom toegesê het, en wat ek daarom vlekkeloos aan Christus wil oorhandig.

3. Ek is tog bang dat julle gedagtes weggevoer sal word van julle opregte en suiwer toewyding aan Christus, net soos die slang Eva met sy listigheid verlei het.

4. As iemand ’n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, of ’n ander Gees of ’n ander evangelie aanvaar as dié wat julle van ons ontvang het, is julle só maklik tevrede daarmee.

5. Ek reken dat ek niks vir daardie superapostels terugstaan nie.

6. Al is ons dalk nie opgelei in die redenaarskuns nie – wat kennis betref, staan ons geensins terug nie! Dit het ons, toe ons by julle was, by elke geleentheid duidelik laat blyk.

7. Het ek miskien ’n fout gemaak deur myself te verneder om julle gees op te hef omdat ek God se Goeie Nuus gratis aan julle gepreek het?

8. Ek het eintlik ander gemeentes beroof deur van hulle vergoeding te aanvaar om julle te bedien.

9. Toe ek by julle was en ’n tekort ondervind het, het ek vir niemand ’n las geword nie, want die broers wat van Masedonië af gekom het, het ten volle aangevul wat ek kortgekom het. Ek het my weerhou en sal my ook verder daarvan weerhou om in enige opsig vir julle ’n las te word.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 11