Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 1:8-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Hóm het julle lief, al het julle Hom nooit gesien nie. Al sien julle Hom nou nie, vertrou julle op Hom; julle kan die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde bring nie.

9. Julle ervaar hierdie blydskap, want julle is reeds besig om julle finale verlossing, wat die doelwit van julle geloof is, te verkry.

10. Oor hierdie verlossing wou die profete meer weet. Hulle het oor God se genade wat vir julle bedoel is, geprofeteer, al het hulle baie vrae oor die bedoeling daarvan gehad.

11. Hulle het probeer uitvind wat die Gees van Christus in hulle bedoel het toe Hy vooruit vir hulle vertel het van Christus se lyding en dat Hy daarna verheerlik sou word. Hulle het gewonder met wie en wanneer dit alles sou gebeur.

12. God het aan hulle openbaar dat dit wat hulle geprofeteer het, nie vir hulle eie tyd bedoel was nie, maar vir julle s’n. Dié Goeie Nuus is nou by julle aangekondig deur dié wat vir julle gepreek het met die krag wat die Heilige Gees gee. God self het die Gees gestuur. Dit is só wonderlik dat selfs die engele dit alles fyn dophou.

13. Sien daarom met verwagting uit na die genade wat vir julle gebring word wanneer Jesus Christus weer verskyn. Sorg dat julle helder dink en gedissiplineerd lewe.

14. Wees gehoorsaam aan God, want julle is sy kinders. Moenie weer soos vroeër julle natuurlike neigings die oorhand laat kry nie. Julle het destyds nie van beter geweet nie.

15. Soos Hy wat julle geroep het heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel ook heilig wees.

16. Hy het immers self gesê: “Wees heilig, want Ék is heilig!”

Lees volledige hoofstuk 1 Petrus 1