Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 15:25-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

25. Want Christus moet aan bewind bly totdat Hy alle vyande finaal verslaan en aan Hom onderdanig gemaak het.

26. Die laaste van hierdie vyande wat vernietig moet word, is die dood.

27. Die Skrif sê mos: “God het aan Hom gesag oor alles gegee.” (Natuurlik, wanneer die Skrif sê dat God aan Hom die gesag oor alles gegee het, is God wat aan Christus hierdie gesag gegee het self uitgesluit.)

28. Wanneer die Seun dan alles aan Homself onderwerp het, sal Hy Hom ook self aan God onderwerp. So sal God dan, wat aan sy Seun die gesag oor alles gegee het, uiteindelik die absolute Koning oor alles en almal wees.

29. As die dooies hoegenaamd nie opgewek word nie, watter sin het dit dan dat mense hulle vir die dooies laat doop? Waarom sou hulle dit nog vir die dooies doen as hulle in elk geval nie weer opgewek word nie?

30. En waarom sal ons ons lewens uur na uur in gevaar stel?

31. Dag na dag verkeer ons op die randjie van die dood. Dit is die absolute waarheid, broers en susters, net so seker as dat julle ons trots is oor wat Christus Jesus ons Here vir julle gedoen het.

32. Verder, waarom sou ek as’t ware met wilde diere in Efese geveg het as dit alles verniet was? As daar geen opwekking van die dooies is nie, “laat ons feesvier en dronk word, want môre sterf ons”.

33. Moenie toelaat dat mense wat sulke dinge sê, julle vir die gek hou nie, want“slegte geselskap bederf goeie gewoontes”.

34. Kom tot julle sinne en moenie langer sondig nie. Tot julle beskaming moet ek vir julle sê dat party van julle heeltemal tekort skiet wat julle kennis van God betref.

35. Nou kan iemand vra: “Hoe sal die dooies wees wanneer hulle opgewek word? Watter soort liggame sal hulle hê?”

36. Jou onverstandige mens, as jy saad in die grond sit, ontkiem dit tog nie tot nuwe lewe as dit nie eers self doodgegaan het nie.

37. Wat jy in die grond sit, is nie die plant wat gaan groei nie, maar bloot ’n droë koringkorreltjie of watter ander saad jy ook al plant.

38. Dan gee God daaraan ’n nuwe liggaam – presies soos Hy dit bepaal het. Van elke soort saad groei daar ’n ander soort plant.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 15