Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 14:26-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

26. Wel, broers en susters, kom ons vat saam. As julle bymekaarkom, kom die een met ’n loflied, die ander een wil oor ’n saak onderrig gee, nog ’n ander een wil vertel van ’n openbaring wat hy of sy ontvang het, nog een wil in tale praat en ’n ander een wil dit uitlê. Goed so, maar laat alles so gedoen word dat dit tot opbou van die gemeente dien.

27. As daar persone is wat in tale wil praat, gee aan twee of hoogstens drie die geleentheid om dit te doen en laat iemand dit uitlê.

28. Maar as daar niemand teenwoordig is wat die praat in tale kan uitlê nie, laat hulle in die gemeentebyeenkoms stilbly en hulle tuis op hulle eie tot God rig.

29. Wat die profete betref, laat twee of drie aan die woord kom en die ander dan beoordeel wat gesê is.

30. Maar as iemand besig is om te profeteer en iemand anders wat daar sit, ontvang ’n openbaring, moet eersgenoemde ophou praat.

31. So kan julle almal, een na die ander, ’n beurt kry om te profeteer en almal leer uit wat gesê word, en almal aangespoor word.

32. Onthou, mense wat profeteer, is in beheer van hulle gees en kan hulle beurt afwag.

33. God is nie ’n God van wanordelikheid nie, maar van onderlinge harmonie soos dit die geval is in al die gemeentes.

34. Die vroue moet in julle gemeente-byeenkomste stilbly. Dit pas hulle nie om daar te praat nie. Hulle moet onderdanig wees soos die wet ook sê.

35. As een van hulle ’n vraag wil stel, moet hulle hulle mans tuis daarna vra, want dit pas nie ’n vrou om in die gemeentebyeenkomste te praat nie.

36. Dink julle regtig dat die ware insig aangaande God se woord sy oorsprong by julle het of dat dit net by julle uitgekom het? Dan maak julle ’n groot fout.

37. As jy daarop aanspraak maak dat jy ’n profeet is of dat jy ’n geestelike mens is, behoort jy te erken dat wat ek skryf, ’n opdrag van die Here is.

38. Maar as jy dit ontken, sal die Here jou ook nie erken nie.

39. Dus, my broers en susters, wees entoesiasties om te profeteer en moenie die spreek in tale teëgaan nie.

40. Maar laat alles in goeie styl en ordelik plaasvind.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 14