Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 11:20-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. As julle dan as gemeente bymekaarkom, is dit duidelik nie die Here se maaltyd wat julle eet nie.

21. Want by die gemeenskaplike maaltyd eet elkeen haastig sy eie ete met die gevolg dat die een honger bly en die ander een weer dronk word.

22. Hoe is dit moontlik? Het julle dan nie julle eie huise waar julle kan eet en drink nie? Het julle geen respek vir die gemeente van God nie? Of wil julle die arm mense verneder? Wat verwag julle moet ek hieroor sê? Julle wil tog seker nie hê ek moet julle hieroor prys nie? Wel, dit sal ek sekerlik nie doen nie!

23. Dít is wat die Here self gesê het en wat ek destyds aan julle oorgedra het net soos ek dit ontvang het. In die nag waarin Jesus verraai is, het Hy brood geneem

24. en nadat Hy God gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam, dit is vir júlle. Gebruik dit ter herinnering aan My.”

25. Net so het Hy die wynbeker ná die maaltyd geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond wat verseël is deur my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, ter herinnering aan My.”

26. Want elke keer as julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die Here se dood totdat Hy terugkom.

27. As enigiemand dan op ’n onwaardige manier van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal daardie persoon skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here.

28. Dit is waarom julle julleself moet ondersoek voordat julle van die brood eet en uit die beker drink.

29. Want as julle van die brood eet en uit die beker drink, eet en drink julle ’n oordeel oor julleself as julle nie die nodige respek teenoor Christus se liggaam betoon nie.

30. Dit is waarom daar baie swakkes en siekes onder julle is, en heelwat onder julle reeds oorlede is.

31. As ons onsself egter vooraf ondersoek, sal ons nie onder God se oordeel kom nie.

32. Maar selfs as ons God se oordeel en dissipline moet verduur, sal ons nie saam met die wêreld veroordeel word nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 11