Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 10:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Broers en susters, ek wil hê julle moet goed verstaan wat destyds met ons voorouers in die woestyn gebeur het. God het hulle almal gelei deur middel van ’n wolk wat vooruit gegaan het. Hulle het almal veilig deur die see getrek.

2. As volgelinge van Moses is hulle almal in die wolk en die see gedoop.

3. En hulle het almal van dieselfde geestelike voedsel geëet

4. en almal van dieselfde wonderwater gedrink. Want hulle het uit die wonderrots gedrink wat hulle vergesel het; en daardie rots was Christus.

5. En tog was God met die meeste van hulle ontevrede en het Hy hulle in die woestyn laat omkom.

6. Hierdie gebeurtenisse moet vir ons tot waarskuwing dien sodat ons nie na verkeerde dinge hunker soos hulle gedoen het nie.

7. Ons moet nie afgode dien soos party van hulle nie. Die Skrif sê: “Die volk het gaan sit om fees te vier en opgestaan om voor die afgod danse uit te voer.”

8. Ons moet ons ook nie aan onsedelike dade skuldig maak soos party van hulle nie. Die gevolg was dat 23 000 van hulle op een dag gesterf het.

9. Ook moet ons Christus nie uittart soos sommige van hulle gedoen het en toe deur slangbyte omgekom het nie.

10. En moenie mor soos sommige van hulle nie, want dit is die rede waarom God die doodsengel gestuur het om hulle dood te maak.

11. Al hierdie dinge het met hulle gebeur as ’n voorbeeld vir ons, en is neergeskryf om ons te waarsku – ons wat hier teen die einde van die wêreldgeskiedenis leef.

12. Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ’n val kom nie.

13. Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ’n uitweg sorg sodat julle dit kan verduur.

14. Daarom, my geliefdes, vlug weg van die afgodsdiens.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 10