Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 1:10-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. En nou, broers en susters, pleit ek by julle in die Naam van ons Here Jesus Christus om eendragtig saam te staan – één in julle oortuigings. Daar mag nie groepvorming onder julle wees nie. Julle moet van harte saamstem in julle denke en in julle visie.

11. Lede van die huisgesin van Chloë het aan my vertel, my broers en susters, dat daar allerlei struwelinge onder julle voorkom.

12. Ek bedoel dat party van julle sê: Ek volg Paulus; ander weer: Ek volg Apollos; nog ander: Ek volg Petrus; en nog ander: Ek volg Christus.

13. Dink julle regtig Christus kan so in stukkies verdeel word? Paulus is tog beslis nie vir julle gekruisig nie! Of is julle dalk in Paulus se naam gedoop?

14. Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie behalwe Krispus en Gaius,

15. want nou kan niemand beweer dat ek mense in my naam gedoop het nie.

16. O ja, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop. Verder weet ek van niemand anders wat ek gedoop het nie.

17. Julle moet verstaan dat Christus my nie in die eerste plek gestuur het om mense te doop nie; Hy het my gestuur om die Goeie Nuus te verkondig – en dit nie met allerlei woordkunsies nie, want daarmee verloor die kruis van Christus sy krag.

18. Ek besef hoe belaglik die boodskap van die kruis moet klink vir hulle wat verlore gaan. Maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 1