Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 1:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierdie brief kom van Paulus. Deur die wil van God is ek geroep om ’n apostel van Christus Jesus te wees. Ons broer Sostenes skryf hierdie brief saam met my.

2. Ons skryf aan die gemeente van God in Korinte, julle vir wie God deur Christus Jesus vir Homself afgesonder en geroep het om sy eie mense te wees. En verder skryf ons ook aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat Jesus Christus ons Here aanbid.

3. Mag die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees.

4. Ek sê voortdurend vir God dankie vir julle, want Hy het julle, omdat julle met Christus Jesus verenig is, met genade oorlaai.

5. Deur Hom het God julle in elke opsig ryk gemaak – ryk in elke vorm van welsprekendheid en kennis.

6. Op hierdie manier is my boodskap aangaande Christus onder julle bevestig.

7. Gevolglik ontbreek dit julle aan geen enkele genadegawe nie en sien julle gretig uit na Jesus Christus ons Here se verskyning by sy wederkoms.

8. Hy sal julle enduit vas laat staan sodat, op die groot dag wanneer ons Here Jesus Christus terugkom, geen vinger na julle gewys sal kan word nie.

9. God sal dit beslis vir julle doen, want Hy hou altyd by sy woord. Dit is tog Hý wat julle geroep het om in hierdie wonderlike persoonlike verhouding met sy Seun, Jesus Christus ons Here, te deel.

10. En nou, broers en susters, pleit ek by julle in die Naam van ons Here Jesus Christus om eendragtig saam te staan – één in julle oortuigings. Daar mag nie groepvorming onder julle wees nie. Julle moet van harte saamstem in julle denke en in julle visie.

11. Lede van die huisgesin van Chloë het aan my vertel, my broers en susters, dat daar allerlei struwelinge onder julle voorkom.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 1