Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 51:16-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

16. Wanneer Hy Sy stem laat hoor, is daar ’n geruis van waters in die hemel en Hy laat die wolke opgaan vanaf die einde van die aarde; Hy maak weerlig vir die reën en laat die wind uitkom uit sy opgaarplekke.

17. Die hele mensdom is dom, sonder kennis; elke goudsmid word beskaamd deur sy afgode, want sy gegote beelde is misleidend en daar is geen asem in hulle nie.

18. Hulle is nutteloos, ’n werk van bespotting; in die tyd van hulle straf sal hulle tot niet gaan.

19. Ya’akov se deel is nie soos hierdie nie, want Hy is die Maker van alles en van die stam van Sy erfenis; יהוה-Tzva’ot is Sy Naam.

20. “Jy is My oorlogshamer, My oorlogswapen en met jou verbrysel Ek nasies en met jou verwoes Ek koninkryke;

21. met jou verbrysel Ek die perd en sy ruiter en met jou verbrysel Ek die strydwa en sy ruiter;

22. met jou verbrysel Ek man en vrou en met jou verbrysel Ek grysaard en jeug en met jou verbrysel Ek die jongman en die maagd;

23. met jou verbrysel Ek die herder en sy trop en met jou verbrysel Ek die landbouer en sy span en met jou verbrysel Ek goewerneurs en heersers.

24. Ek sal Bavel en al die inwoners van die land van die Kasdeërs voor julle oë terugbetaal vir al hulle boosheid wat hulle in Tziyon gedoen het,” verklaar יהוה.

25. “Let op, Ek is teen jou, o verwoestende berg, wat die hele aarde verwoes,” verklaar יהוה; “en Ek sal My hand teen jou uitstrek en jou van die rotse af laat rol en Ek sal van jou ’n afgebrande berg maak.

26. Hulle sal selfs nie ’n klip van jou af vat vir ’n hoek of ’n klip vir fondasies nie, maar jy sal vir ewig verlate wees,” verklaar יהוה.

27. Lig ’n banier op in die land, blaas ’n ramshoring onder die nasies! Sonder die nasies teen haar af, roep die koninkryke van Ararat, Minni en Ashkenaz teen haar op, stel ’n aanvoerder teen haar aan, bring die perde op soos voetganger sprinkane!

28. Sonder nasies teen haar af, die konings van die Mede, hulle goewerneurs en al hulle leiers en elke land van hulle heerskappy.

29. So bewe die land en krimp inmekaar, want die planne van יהוה teen Bavel staan, om die land van Bavel ’n verlatenheid te maak, sonder inwoner.

30. Die magtige manne van Bavel het opgehou om te veg, hulle bly in die vestings; hulle krag is uitgeput, hulle het soos vroue geword. Hulle blyplekke is aan die brand gesteek, die grendels is gebreek.

31. Die een loper hardloop die ander tegemoet en die een boodskapper die ander, om aan die koning van Bavel te vertel dat sy stad van kant tot kant ingeneem is.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 51