Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 4:5-15 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

5. Verklaar in Y’hudah en verkondig dit in Yerushalayim en sê: “Blaas die ramshoring in die land! Roep hardop uit en sê: ‘Bring julleself bymekaar en laat ons in die versterkte stede ingaan!’

6. Lig ’n banier na Tziyon toe óp! Soek skuiling, moenie staan nie, want Ek bring boosheid uit die noorde en ’n groot vernietiging.

7. ’n Leeu het opgekom uit sy fynbos en ’n vernietiger van nasies het opgetrek; hy het uit sy plek uitgegaan om jou land ’n woesteny te maak; jou stede sal puinhope word, sonder inwoners.

8. Hiervoor, trek rouklere aan, treur en huil, want die heftige woede van יהוה het nie omgedraai van jou af nie.”

9. “Dit sal gebeur op dié dag,” verklaar יהוה, “dat die binneste van die koning en die binneste van die prinse sal faal en die priesters sal verskrik wees en die profete verstom staan.”

10. Toe het ek gesê: “Ag, יהוה-God, waarlik, ek het hierdie volk en vir Yerushalayim grootliks mislei deur te sê: ‘Julle sal vrede hê’ terwyl ’n swaard aan die keel raak.”

11. In daardie tyd sal dit vir hierdie volk en vir Yerushalayim gesê word: “’n Gloeiende wind sal waai vanaf die kaal hoogtes in die wildernis in die rigting van die dogter van My volk; nie om te wan of skoon te maak nie,

12. maar ’n sterk wind vanaf daardie plekke sal na My toe kom; nou sal Ek ook oordele teen hulle uitspreek.

13. “Let op, hy gaan op soos wolke en sy strydwaens soos ’n warrelwind; sy perde is vinniger as arende. Wee ons, want ons is verwoes!”

14. “Was jou verstand, wil en emosie van boosheid, o Yerushalayim sodat jy gered kan word. Hoe lank sal jou bose gedagtes blyplek vind in jou?

15. Want ’n stem verkondig boosheid vanuit Dan en vanaf die gebergte van Efrayim.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 4