Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 38:6-12 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

6. Toe vat hulle vir Yirmeyahu en gooi hom in die put van Malkiyahu, die seun van die koning, wat in die hof van die waghuis was en hulle het Yirmeyahu met toue laat afsak. Nou, in die put was daar geen water nie, maar net modder en Yirmeyahu het in die modder ingesink,

7. maar `Eved-Melekh, die Kushiet, ’n kamerling, het terwyl hy in die paleis van die koning was, gehoor dat hulle Yirmeyahu in die put gesit het. Die koning het in die Binyaminspoort gesit

8. en `Eved-Melekh het uit die paleis van die koning uitgegaan en met die koning gepraat en gesê:

9. “My meester die koning, hierdie manne het boos opgetree in alles wat hulle die profeet Yirmeyahu aangedoen het, wat hulle in die put gegooi het en hy sal net daar waar hy is sterf as gevolg van die hongersnood, want daar is geen brood meer in die stad nie.”

10. Toe beveel die koning vir `Eved-Melekh, die Kushiet en sê: “Vat dertig manne hiervandaan onder jou outoriteit en trek die profeet Yirmeyahu uit die put uit op, voordat hy sterf.”

11. `Eved-Melekh het die manne onder sy outoriteit gevat en in die paleis van die koning ingegaan en van onder uit die stoorkamer verslete klere en geskeurde lappe gevat en dit na Yirmeyahu in die put met toue laat afsak.

12. Toe het `Eved-Melekh, die Kushiet, vir Yirmeyahu gesê: “Sit nou die verslete klere en geskeurde lappe onder jou armholtes onder die toue” en Yirmeyahu het so gedoen.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 38