Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 38:1-11 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Sh’fatyah, die seun van Mattan; G’dalyahu, die seun van Pash’gur; Y’hukhal, die seun van Shelemyahu en Pash’gur, die seun van Malkiyah, het die woorde gehoor wat Yirmeyahu met die hele volk gepraat en gesê het:

2. “So sê יהוה: ‘Hy wat in hierdie stad bly, sal sterf deur die swaard, die hongersnood en die pes, maar hy wat na die Kasdeërs toe uitgaan, sal lewe en sy eie lewe as buit hê en aan die lewe bly.’

3. So sê יהוה: ‘Hierdie stad sal sekerlik oorgegee word in die hand van die leër van die koning van Bavel en hy sal dit inneem.’”

4. Toe het die amptenare vir die koning gesê: “Laat hierdie man doodgemaak word, want dit is hy wat die krygsmanne wat in hierdie stad oor is en die hele volk ontmoedig deur sulke woorde met hulle te praat, want dié man soek nie die welsyn van hierdie volk nie, maar hulle skade.”

5. Koning Tzidkiyahu het gesê: “Let op, hy is in julle hande, want die koning kan niks teen julle doen nie.”

6. Toe vat hulle vir Yirmeyahu en gooi hom in die put van Malkiyahu, die seun van die koning, wat in die hof van die waghuis was en hulle het Yirmeyahu met toue laat afsak. Nou, in die put was daar geen water nie, maar net modder en Yirmeyahu het in die modder ingesink,

7. maar `Eved-Melekh, die Kushiet, ’n kamerling, het terwyl hy in die paleis van die koning was, gehoor dat hulle Yirmeyahu in die put gesit het. Die koning het in die Binyaminspoort gesit

8. en `Eved-Melekh het uit die paleis van die koning uitgegaan en met die koning gepraat en gesê:

9. “My meester die koning, hierdie manne het boos opgetree in alles wat hulle die profeet Yirmeyahu aangedoen het, wat hulle in die put gegooi het en hy sal net daar waar hy is sterf as gevolg van die hongersnood, want daar is geen brood meer in die stad nie.”

10. Toe beveel die koning vir `Eved-Melekh, die Kushiet en sê: “Vat dertig manne hiervandaan onder jou outoriteit en trek die profeet Yirmeyahu uit die put uit op, voordat hy sterf.”

11. `Eved-Melekh het die manne onder sy outoriteit gevat en in die paleis van die koning ingegaan en van onder uit die stoorkamer verslete klere en geskeurde lappe gevat en dit na Yirmeyahu in die put met toue laat afsak.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 38