Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 36:1-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. In die vierde jaar van Y’hoyakim, die seun van Yoshiyahu, koning van Y’hudah, het hierdie woord van יהוה tot Yirmeyahu gekom:

2. “Vat ’n boekrol en skryf al die woorde wat Ek met jou gepraat het oor Yisra’el, Y’hudah en oor al die nasies daarop, vanaf die dag dat Ek met jou gepraat het, van die dae van Yoshiyahu af, tot vandag toe.

3. Miskien sal die huis van Y’hudah hoor van al die rampe wat Ek beplan om oor hulle te bring sodat elkeen kan omdraai van sy verkeerde lewenswyse; dan sal Ek hulle oortredinge en hulle sonde vergewe.”

4. Toe het Yirmeyahu vir Barukh, die seun van Neriyah, geroep en Barukh het op ’n boekrol geskryf, gedikteer deur Yirmeyahu, al die woorde van יהוה wat Hy met hom gepraat het.

5. Yirmeyahu het Barukh beveel en gesê: “Ek is ingeperk; ek kan nie in die huis van יהוה ingaan nie.

6. Gaan jy en lees vir die mense in die huis van יהוה op ’n vasdag die woorde van יהוה uit die rol wat jy deur my diktasie geskryf het en jy moet dit ook lees vir die hele Y’hudah wat vanaf hulle stede kom.

7. Miskien sal hulle versoeke voor die Teenwoordigheid van יהוה kom en almal sal omdraai van hulle verkeerde lewenswyse, want groot is die woede en die toorn wat יהוה teen hierdie volk verklaar het.”

8. Barukh, die seun van Neriyah, het gedoen volgens alles wat Yirmeyahu, die profeet, hom beveel het en die woorde van יהוה, in die huis van יהוה, uit die boekrol gelees.

9. In die vyfde jaar van Y’hoyakim, die seun van Yoshiyahu, koning van Y’hudah, in die negende maand, het al die mense in Yerushalayim en al die mense wat uit die stede van Y’hudah na Yerushalayim gekom het, ’n vasdag voor die Teenwoordigheid van יהוה uitgeroep.

10. Toe het Barukh die woorde van Yirmeyahu uit die boek aan al die mense gelees, in die huis van יהוה, in die kamer van G’maryah, die seun van Shafan, die skrywer, in die boonste hof, by die ingang van die Nuwe Poort van die huis van יהוה.

11. Toe Mikhay’hu, die seun van G’maryah, die seun van Shafan, al die woorde van יהוה uit die boekrol gehoor het,

12. gaan hy af na die huis van die koning, na die kamer van die skrywer en let op, al die amptenare het daar gesit: Elishama, die skrywer; D’layahu, die seun van Sh’ma’yahu; Elnatan, die seun van `Akhbor; G’maryah, die seun van Shafan; Tzidiyahu, die seun van Hananyahu en al die amptenare.

13. Mikhay’hu het aan hulle die hele boodskap aangekondig wat hy gehoor het toe Barukh uit die boekrol vir al die mense gelees het.

14. Toe stuur al die amptenare vir Y’hudi, die seun van N’tanyahu, die seun van Shelemyahu, die seun van Kushi, na Barukh, met die boodskap en sê: “Vat die rol waaruit jy vir die mense gelees het in jou hand en kom.” Barukh, die seun van Neriyah, vat toe die rol in sy hand en gaan na hulle toe.

15. Hulle sê vir hom: “Sit asseblief en lees dit vir ons.” Barukh het dit vir hulle gelees.

16. Toe hulle al die woorde gehoor het, het hulle verskrik na mekaar gedraai en vir Barukh gesê: “Ons moet al hierdie woorde sekerlik aan die koning rapporteer.”

17. Hulle het vir Barukh gevra: “Vertel ons asseblief, hoe het jy al hierdie woorde neergeskryf; deur sy diktasie?”

18. Toe antwoord Barukh hulle: “Hy het al hierdie woorde aan my dikteer en ek het dit met ink op die boekrol geskryf.”

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 36