Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 30:5-19 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

5. “So sê יהוה: ‘Ek het ’n klank van verskrikking gehoor; van vrees en daar is geen vrede nie!

6. Vra tog en kyk of ’n manspersoon geboorte kan gee? Waarom sien Ek elke man met sy hande op sy heupe soos ’n vrou in geboortepyn en waarom het alle gesigte bleek geword?

7. Wee, want daardie dag is groot, daar is geen ander soos dit nie en dit is die tyd van Ya’akov se benoudheid, maar hy sal daaruit gered word.

8. Dit sal gebeur op daardie dag,’ verklaar יהוה-Tzva’ot, ‘dat Ek die koning van Bavel se juk van hulle nek sal afbreek en hulle stroppe sal afskeur en vreemdelinge sal hul nie langer hulle slawe maak nie,

9. maar hulle sal יהוה, hulle God, dien en Dawid, hulle Koning, wat Ek vir hulle sal opwek.

10. Wees nie bevrees nie, o Ya’akov My kneg,’ verklaar יהוה ‘en moenie mismoedig wees nie, o Yisra’el, want let op, Ek sal jou red daar ver en jou nageslag uit die land van hulle gevangeskap en Ya’akov sal terugkom en stil en rustig wees en niemand sal hom bang maak nie,

11. want Ek is by jou,’ verklaar יהוה, ‘om jou te red, want Ek sal al die nasies waarheen Ek jou verstrooi het volkome vernietig, maar vir jou sal Ek nie volkome vernietig nie, maar Ek sal jou regverdiglik tugtig en jou onder geen omstandighede ongestraf laat bly nie,’

12. want so sê יהוה: ‘Jou wond is ongeneeslik en jou besering ernstig.

13. Daar is niemand om jou saak te pleit nie; geen genesing vir jou seer nie, geen herstel vir jou nie.

14. Al jou minnaars het jou vergeet, hulle vra nie na jou nie, want Ek het jou verwond met die wond van ’n vyand, met ’n wrede straf omdat jou oortredinge groot is en jou sondes baie.

15. Waarom roep jy uit oor jou wond? Jou wond is pynlik omdat jou oortredinge groot is en omdat jou sondes vermeerder het, het Ek hierdie dinge aan jou gedoen;

16. daarom, almal wat jou opeet, sal opgeëet word en al jou teëstanders, elke een van hulle, sal in gevangeskap gaan en hulle wat jou plunder, sal geplunder word en Ek sal almal wat jou jag, oorgee as ’n prooi,

17. want Ek sal jou tot gesondheid herstel en jou genees van jou wonde,’ verklaar יהוה, ‘omdat hulle jou ’n uitgeworpene genoem het en sê: “Dit is Tziyon, niemand gee om vir haar nie.’”

18. So sê יהוה: ‘Let op, Ek sal die voorspoed van die tente van Ya’akov herstel en My oor sy blyplekke ontferm en die stad sal op sy puinhoop herbou word en die paleis sal op sy regte plek staan.

19. Vanuit hulle sal danksegging en die stem van hulle wat feesvier uitgaan en Ek sal hulle vermenigvuldig en hulle sal nie verminder nie; Ek sal hulle ook eer en hulle sal nie gering wees nie.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 30