Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 3:1-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Hy sê: “As ’n man sy vrou skei en sy gaan van hom af weg en behoort aan ’n ander man en hy gaan na haar toe terug, let op, die land sal besoedel wees. Jy het egter egbreuk gepleeg met baie heersers; draai terug na My toe,” verklaar יהוה!

2. “Lig jou oë op na die hoofpaaie en kyk of daar ’n plek is waar jy jouself nie onteer het nie? Langs die paaie het jy vir hulle gesit en wag soos ’n volstruis in die woestyn en jy het die land besoedel deur jou hoerery;

3. daarom is die reënbuie teruggehou en daar was geen lentereëns nie. Steeds het jy ’n hoerevoorkop gehad, jy het geweier om skaam te wees.

4. Het jy nie nou net na My geroep nie: ‘My Vader, U is die Vriend van my jeug!

5. Sal Hy vir ewig kwaad wees, sal Hy verontwaardig bly tot die einde?’ Let op, jy het gepraat en bose dinge gedoen en jou wil gekry.”

6. Toe het יהוה vir my in die dae van koning Yoshiyahu gesê: “Het jy gesien wat die ontroue Yisra’el gedoen het? Sy het opgegaan en op elke hoë heuwel en onder elke groen boom hoereer.

7. Ek het gedink: ‘Nadat sy dit alles gedoen het sal sy terugdraai na My toe,’ maar sy het nie teruggedraai nie en haar boosheid is deur haar suster, Y’hudah, gesien.

8. Sy het al Yisra’el se boosheid gesien en omdat Yisra’el se inwoners hoerery gepleeg het, het Ek haar weggestuur en aan haar ’n skeibrief gegee; tog het haar perverse suster, Y’hudah, nie gevrees nie, maar het gegaan en ook hoereer.

9. Haar hoerery was so oordadig dat sy die land besoedel en owerspel gepleeg het met afgode van klip en hout.

10. Nogtans, ten spyte van dit alles, het haar misleidende suster, Y’hudah, nie met haar hele verstand, wil en emosie na My toe terug gedraai nie, maar net met valsheid,” verklaar יהוה.

11. יהוה het vir my gesê: “Ontroue Yisra’el het haarself meer regverdig as haar perverse suster, Y’hudah.

12. Gaan en verkondig hierdie woorde na die noorde toe en sê: ‘Draai terug, inwoners van Yisra’el,’ verklaar יהוה; ‘Ek sal nie na jou kyk in woede nie, want Ek is goedgunstig,’ verklaar יהוה; ‘Ek sal nie vir ewig kwaad wees nie.

13. Erken slegs jou onregverdigheid dat jy teen יהוה, jou God, oortree het en jou gunste versprei het na die vreemdelinge onder elke groen boom en jy nie My stem gehoorsaam het nie,’ verklaar יהוה.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 3