Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 11:7-14 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. want Ek het julle vaders ernstig gewaarsku op die dag toe Ek hulle uit die land van Mitzrayim laat opkom het, selfs tot vandag toe, aanhoudend gewaarsku en gesê: “Luister na My stem!”

8. Nogtans het hulle nie gehoorsaam of hulle oor gedraai nie, maar elkeen in die hardkoppigheid van sy bose verstand, wil en emosie geloop; daarom het Ek al die woorde van hierdie verbond oor hulle gebring, wat Ek hulle beveel het om te doen, maar hulle nie gedoen het nie.’”

9. Toe het יהוה vir my gesê: “’n Sameswering is ontdek onder die manne van Y’hudah en onder die inwoners van Yerushalayim.

10. Hulle het teruggedraai na die oortredinge van hulle voorvaders wat geweier het om My woorde te gehoorsaam en hulle het agter ander gode aangeloop om dié te dien; die huis van Yisra’el en die huis van Y’hudah het My verbond verbreek wat Ek met hulle vaders gesluit het.”

11. יהוה sê daarom: “Let op, Ek bring ’n ramp oor hulle waarvan hulle nie kan ontsnap nie; alhoewel hulle na My sal roep, sal Ek nie na hulle luister nie.

12. Dan sal die stede van Y’hudah en die inwoners van Yerushalayim gaan en roep na die gode vir wie hulle wierook gebrand het, maar dié sal hulle sekerlik nie red in die tyd van hulle ramp nie,

13. want jou gode is soveel as jou stede, o Y’hudah en soveel as die strate van Yerushalayim is die altare wat julle opgerig het vir die skandelike ding, altare om wierook te brand tot Ba’al.

14. Moet daarom nie vir hierdie volk bid nie en moet ook nie ’n uitroep of gebed vir hulle oplig nie, want Ek sal nie hoor as hulle My vanweë hulle ramp aanroep nie.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 11