Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 10:1-14 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Luister na die boodskap wat יהוה met julle gepraat het, o huis van Yisra’el!

2. So sê יהוה: “Moenie die maniere van die nasies leer nie en moenie vrees vir die tekens van die hemel nie, alhoewel die nasies daarvoor vrees,

3. want die tradisies van die volke is misleiding, want dit is ‘n boom uit ’n woud gekap, die handewerk van ’n ambagsman met snygereedskap.

4. Hulle versier dit met silwer en goud; hulle maak dit vas met spykers en hamers dat dit nie waggel nie.

5. Soos ’n voëlverskrikker in ’n komkommerland is hulle en hulle kan nie praat nie; hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Moenie vir hulle bang wees nie, want hulle kan geen skade doen nie en ook geen goed doen nie.”

6. Daar is niemand soos U nie, יהוה! U is groot en U Naam (Karakter en Outoriteit) is groot in krag.

7. Wie sou U nie vrees nie, o Koning van die nasies? Inderdaad kom dit U toe, want onder al die wyse manne van die nasies en in al hulle koninkryke is daar niemand soos U nie.

8. Hulle is egter almal saam in hul beoefening van misleiding dom en dwaas; hulle afgod is hout!

9. Geslaande silwer word uit Tarshish gebring en goud uit Ufaz, die werk van ’n ambagsman en van die hande van ’n goudsmid; blou en pers is hulle klere; alles die werk van bekwame manne,

10. maar יהוה is die Ware God; Hy is die Lewende God en die Ewige Koning; vir Sy toorn bewe die aarde en die nasies kan nie Sy verontwaardiging verdra nie.

11. So moet julle vir hulle sê: “Die gode wat nie die hemel en die aarde gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en van onder die hemele uit.”

12. Hy het die aarde gemaak deur Sy krag, die wêreld gevestig deur Sy wysheid en die hemel uitgestrek deur Sy insig.

13. As Hy Sy stem laat hoor, is daar ’n geruis van waters in die hemel en Hy laat die wolke opstyg van die einde van die aarde af; Hy maak weerlig vir die reën en bring die wind vanuit sy voorraadskure.

14. Elke mens is dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur sy afgode, want sy gegote beeld is misleidend en daar is geen asem in hulle nie.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 10