Ou Testament

Nuwe Testament

Y'hoshua 8:2-19 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

2. Jy moet met `Ai en sy koning doen net soos jy met Yerigo en sy koning gedoen het; net sy buit en sy vee mag julle vir julself buitmaak. Stel ’n hinderlaag op aan die agterkant, teen die stad.”

3. Y’hoshua het opgestaan saam met al die manskappe om op te gaan na `Ai en Y’hoshua het dertig duisend man, dapper soldate, uitgesoek en hulle in die nag uitgestuur.

4. Hy het hulle beveel en gesê: “Kyk, julle gaan ’n hinderlaag teen die stad opstel, aan die agterkant; moenie ver van die stad af weggaan nie, maar wees julle almal gereed.

5. Dan sal ek met al die manne wat by my is, die stad nader en wanneer hulle dan uitkom om ons te ontmoet, sal ons soos die vorige keer, voor hulle uit vlug.

6. Hulle sal uitkom agter ons aan totdat ons hulle van die stad af weggelok het, want hulle sal sê: ‘Hulle vlug voor ons uit soos die eerste keer.’ So sal ons voor hulle uit vlug.

7. Julle moet uit die hinderlaag opstaan en die stad in besit neem, want יהוה, julle God, sal dit in julle hand gee.

8. Dan, wanneer julle die stad verower het, moet julle die stad aan die brand steek. Julle moet dit doen volgens die Woord van יהוה. Kyk, ek het julle beveel.

9. So het Y’hoshua hulle dan weggestuur en hulle het na die plek van die hinderlaag gegaan en gebly tussen Beit-El en `Ai, aan die westekant van `Ai, maar Y’hoshua het dié nag tussen die manskappe deurgebring.

10. Die oggend vroeg het Y’hoshua opgestaan, die manskappe aangetree en opgegaan saam met die oudstes van Yisra’el, voor die manskappe, na `Ai toe.

11. Toe het al die manskappe wat by hom was, opgegaan en nader gegaan en voor die stad aangekom en hulle het laer opgeslaan aan die noordekant van `Ai, met ’n vallei tussen hulle en `Ai.

12. Hy het omtrent vyf duisend man gevat en hulle in ’n hinderlaag opgestel tussen Beit-El en `Ai, aan die westekant van die stad.

13. So het hulle die manskappe opgestel, die hele leër wat aan die noordekant van die stad was, met sy agterhoede aan die westekant van die stad en Y’hoshua het daardie nag in die vallei deurgebring.

14. Dit het gebeur, toe die koning van `Ai dit sien, het die manne van die stad gou gemaak en vroeg opgestaan en uitgegaan om Yisra’el in die geveg te ontmoet, hy en al sy manskappe, op ’n aangestelde plek voor die woestynvlakte. Hy het egter nie geweet dat daar agter die stad ’n hinderlaag teen hom lê nie.

15. Y’hoshua en die hele Yisra’el het voorgegee om verslaan te wees voor hulle en gevlug in die rigting van die wildernis.

16. Al die manskappe in die stad is bymekaar geroep om hulle te agtervolg en hulle het Y’hoshua agtervolg en is weggelok van die stad af.

17. Daar was nie ’n man oor in `Ai of Beit-El, wat nie agter Yisra’el aan gegaan het nie en hulle het die stad onbewaak laat staan en Yisra’el agtervolg.

18. Toe sê יהוה vir Y’hoshua: “Steek die spies wat in jou hand is, na `Ai toe uit, want Ek sal dit in jou hand gee.” Y’hoshua het die spies, wat in sy hand was, na die stad toe uitgesteek.

19. Die manne in die hinderlaag het gou van hulle plek af opgestaan en toe hy sy hand uitgesteek het, gehardloop, die stad ingegaan en dit oorgeneem en die stad gou aan die brand gesteek.

Lees volledige hoofstuk Y'hoshua 8