Ou Testament

Nuwe Testament

Y'hoshua 15:1-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Die lot vir die stam van die seuns van Y’hudah, volgens hulle families, het geval vanaf teenaan die grens van Edom, suidwaarts na die wildernis van Tzin in die verre suide.

2. Hulle suidelike grens was vanaf die laer end van die Soutsee, vanaf die baai wat na die suide toe draai.

3. Dan loop dit suidwaarts na Ma’aleh-`Akrabbiem en aan na Tzin; dan gaan dit op, suid van Kadesh-Barnea, aan na Hetzron en loop op na Addar en draai na Karka toe;

4. dan verder aan na `Atzmon en voort na die spruit van Mitzrayim en die grens eindig by die see; dit sal julle suidelike grens wees.

5. Die oostelike grens: die Soutsee tot by die mond van die Yarden. Die noordelike grens: vanaf die baai van die see by die mond van die Yarden;

6. dan loop die grens op na Beit-Hoglah en aan noordwaarts vanaf Beit-`Aravah en die grens loop op na die klip van Bohan, die seun van Re’uven.

7. Die grens loop op na D’vir, van die Vallei van Akhor af en draai dan noord na Gilgal wat oorkant Ma’aleh-Adumim lê, aan die suidekant van die vallei en die grens gaan aan na die waters van `Ein-Shemesh en eindig by `Ein-Rogel.

8. Dan loop die grens op in die vallei van Ben-Hinnom na die suidelike hang van die Y’vusiete, dit is Yerushalayim; die grens loop op na die top van die berg wat voor die Vallei van Hinnom na die weste lê, wat aan die einde van die Vallei van Refa’im na die noorde is.

9. Vanaf die top van die berg draai die grens na die fontein van die waters van Neftoag en loop aan na die stede van Berg `Efron; dan draai die grens na Ba’alah, dit is Kiryat-Ye’arim.

10. Die grens draai van Ba’alah af weswaarts weg na Berg Se’ir en aan na die hang van die berg Ye’arim aan die noorde, dit is K’salon en loop af na Beit-Shemesh en aan deur Timnah.

11. Die grens gaan noordwaarts aan na die kant van `Ekron. Dan draai die grens na Shikron en aan na Berg Ba’alah en aan na Yavne’el en die grens eindig by die see.

12. Die westelike grens is die Groot See se kuslyn. Hierdie is die grens rondom die seuns van Y’hudah volgens hulle families.

13. Nou, aan Kalev, die seun van Y’funneh, het hy ’n deel tussen die seuns van Y’hudah gegee, volgens die bevel van יהוה aan Y’hoshua: Kiryat-Arba, (Arba die vader van `Anak), dit is Hevron.

Lees volledige hoofstuk Y'hoshua 15