Ou Testament

Nuwe Testament

Yesha'yahu 60:1-9 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. “Staan op, skyn, want jou Lig het gekom en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het oor jou opgekom,

2. want let op, duisternis sal die aarde oordek en ’n diepe donkerheid die volke, maar יהוה sal oor jóu opkom en Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid sal oor jou verskyn.

3. Nasies sal na jou lig toe kom en konings na die helderheid van jou opkoms.

4. Lig jou oë op en kyk rondom; hulle kom almal bymekaar, hulle kom na jou toe. Jou seuns sal van ver af kom en jou dogters sal in die arms gedra word.

5. Dan sal jy sien en jou gesig sal ophelder en jy sal verheug wees en jou verstand, wil en emosie sal tot rus kom, want die rykdom van die see sal na jou toe gedraai word, die sterkte van die nasies sal na jou toe kom.

6. ’n Menigte kamele sal jou toedek, die drommedarisse van Midyan en `Eifah; almal vanaf Sh’va sal kom; hulle sal goud en wierook bring en sal goeie nuus dra van die lofprysinge van יהוה.

7. Al die kleinvee van Kedar sal by jou bymekaargemaak word, die ramme van N’vayot sal jou bedien; hulle sal met aanvaarding opgaan na My altaar en Ek sal eer en lof bring aan My huis van lof, eer en aanbidding.

8. Wie is hierdie wat soos ’n wolk vlieg, soos duiwe na hulle vensters?

9. Die kuslande sal sekerlik vir My wag en die skepe van Tarshish, met hul silwer en goud vir die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה, jou God en vir die Afgesonderde Een van Yisra’el, sal eerste kom om jou seuns by hulle, van ver af te bring omdat hy jou eer en lof gebring het.

Lees volledige hoofstuk Yesha'yahu 60