Ou Testament

Nuwe Testament

Yesha'yahu 5:15-27 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

15. So word die gewone man nederig gemaak en die belangrike man verneder, die oë van die trotse mense sal ook verneder word,

16. maar יהוה-Tzva’ot sal opgelig word in oordeel en die Afgesonderde God sal Homself Afgesonderd wys in onpartydige opregtheid.

17. Dan sal die lammers, soos hulle gewoond was, op hulle weiveld wei en die puinhope wat herbou sal word sal die eiendom van hulle regmatige eienaars wees.

18. Wee hulle wat die oortredinge van die wet saamsleep met koorde van valsheid en die sonde asof met wa-toue;

19. wat sê: “Laat Hy gou maak, laat Hy Sy werk verhaas sodat ons dit kan sien! Laat die doel van die Afgesonderde van Yisra’el naderkom en gebeur sodat ons dit kan ken!”

20. Wee hulle wat boosheid goed noem en goedheid boos; wat die duisternis plaas in die plek van lig en die lig in die plek van duisternis; wat bitter vervang met soet en soet met bitter.

21. Wee hulle wat wys is in hulle eie oë en slim is na eie oordeel.

22. Wee hulle wat helde is deur wyn te drink en dapper manne is deur sterk drank te meng;

23. wat die bose oortreder onskuldig verklaar vir ’n omkoopgeskenk en die reg van die een wat onskuldig is, wegvat;

24. daarom, soos die vuurtong stoppels verteer en droë gras in die vlam inmekaarsak, so sal hulle wortel soos poeier word en hulle bloeisel soos stof wegwaai omdat hulle die wet van יהוה-Tzva’ot verwerp het en die woord van die Afgesonderde van Yisra’el verag het.

25. Om hierdie rede het die woede van יהוה gebrand teen Sy volk en het Hy Sy hand teen hulle uitgesteek en hulle neergeslaan en die berge het gebewe en hulle lyke het soos vullis in die middel van die strate gelê. Na dit alles is Sy woede nie uitgewoed nie, maar is Sy hand nog uitgesteek.

26. Hy sal ’n banier oplig vir die nasies van ver en vir hulle fluit vanaf die einde van die aarde en let op, hulle sal gou, met spoed, kom.

27. Nie een van hulle is moeg of struikel nie, nie een sluimer of slaap nie, of het die gordel van hulle heupe losgemaak of die riem van hulle skoene gebreek nie.

Lees volledige hoofstuk Yesha'yahu 5