Ou Testament

Nuwe Testament

Yesha'yahu 14:2-19 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

2. Hulle sal die volke saamvat en na hul plek bring en die huis van Yisra’el sal hulle besit as ’n erfenis in die land van יהוה, as slawe en slavinne; hulle sal dié gevange neem wat hulle as gevangenes weggevoer het en oor hulle onderdrukkers heers.

3. Dit sal wees op die dag wanneer יהוה jou rus gee van jou smart, jou rusteloosheid en van die harde diens waaraan julle verslaaf is

4. dat jy hierdie spreuk teen die koning van Bavel sal begin en sê: “Hoe het die onderdrukker opgehou, die ywerige het opgehou!

5. יהוה het die staf van die bose oortreder verbreek, die septer van die heersers,

6. wat die volke in raserny met onophoudelike slae geslaan het, wat die nasies in woede onderdruk het met onbeteuelde vervolging.

7. Die hele aarde rus, is stil; hulle breek uit in uitroepe van blydskap.

8. Selfs die sipresbome en die seders van die L’vanon is bly oor jou en hulle sê: ‘Sedert jy afgebring is, kom geen snyer teen ons op nie.’

9. Sh’ol, onder, is opgewonde oor jou koms; dit wek al die leiers van die aarde en die konings van die nasies op wat jy onttroon het.

10. Hulle sal almal antwoord en vir jou sê: ‘Selfs jy is swak gemaak soos ons; jy het soos ons geword.’

11. Jou prag en praal en die musiek van jou harpe is afgebring na Sh’ol; maaiers is onder jou uitgesprei en wurms is jou bedekking.’

12. Hoe het jy geval uit die hemel, o môrester, seun van die sonsopkoms! Jy is na die aarde toe afgesny, jy wat die nasies swak gemaak het,

13. maar jy het in jou verstand, wil en emosie gesê: ‘Ek wil opgaan na die hemel; ek sal my troon oplig bo die sterre van God en ek sal sit op die berg van ontmoeting, aan die noordelike uithoek.1 Tim 3:6

14. Ek sal opgaan bo die hoogtes van die wolke; ek sal myself soos die Allerhoogste maak!’Luk 10:15

15. Nogtans sal jy in Sh’ol neergewerp word, in die diepste plekke van die put!

16. Die wat jou sien, sal jou aanstaar, hulle sal oor jou wonder en sê: ‘Is dit die man wat die aarde laat bewe het, wat koninkryke geskud het,

17. wat die wêreld soos ’n wildernis gemaak en sy stede verwoes het, wat nie sy gevangenes toegelaat het om huis toe te gaan nie?

18. Al die konings van die nasies lê in lof en eer, elkeen in sy eie graf,

19. maar jy is uitgewerp uit jou graf, soos ’n verwerpte tak, aangetrek met die doodgemaaktes wat deurboor is met ’n swaard, wat afgaan na die klippe van die put, soos ’n vertrapte lyk.

Lees volledige hoofstuk Yesha'yahu 14