Ou Testament

Nuwe Testament

Yegezk'el 39:1-11 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. “Jy, seun van ’n mens, profeteer teen Gog en sê: ‘So sê יהוה-God: “Let op, Ek is teen jou, o Gog, hoofprins van Meshekh en Tuval.

2. Ek sal jou omdraai en jou voortdryf, jou bring vanuit die verste dele van die noorde en jou teen die berge van Yisra’el laat kom.

3. Ek sal jou boog uit jou linkerhand slaan en jou pyle uit jou regterhand laat val.

4. Jy sal val op die berge van Yisra’el, jy en al jou troepe en die volke wat saam met jou is; Ek sal jou gee as kos aan elke soort roofvoël en aan elke soort wilde dier van die veld.

5. Jy sal op die oop veld val, want dit is Ek wat gepraat het,” verklaar יהוה-God.

6. “Ek sal vuur stuur op Magog en die wat in veiligheid die kuslande bewoon en hulle sal weet dat Ek יהוה is.

7. Ek sal My afgesonderde Naam (Karakter en Outoriteit) bekendmaak te midde van My volk Yisra’el en Ek sal nie dat My afgesonderde Naam meer onteer word nie en die nasies sal weet dat Ek יהוה is, die Afgesonderde Een in Yisra’el.

8. Let op, dit kom en dit sal gedoen word,” verklaar יהוה-God. “Dít is die dag waarvan Ek gepraat het;

9. dan sal die inwoners van die stede van Yisra’el uitgaan en vuur maak met die wapens en hulle brand, beide klein en groot skilde, boë en pyle, knopkieries en spiese en hulle sal daarmee vuur maak vir sewe jaar lank.

10. Hulle sal nie hout uit die veld vat of vuurmaakhout in die woude bymekaarmaak nie, want hulle sal vuurmaak met die wapens en hulle sal die buit vat van dié wat hulle buit gevat het en die plunder vat van dié wat hulle geplunder het,” verklaar יהוה-God.

11. Op daardie dag sal Ek vir Gog ’n begraafplaas daar in Yisra’el gee, die vallei van dié wat aan die oostekant van die see verbytrek en dit sal die wat deurtrek blokkeer. Daar sal hulle vir Gog begrawe en sy hele menigte en hulle sal dit noem: die vallei van Hamon-Gog.

Lees volledige hoofstuk Yegezk'el 39