Ou Testament

Nuwe Testament

Yegezk'el 27:22-36 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

22. Die handelaars van Sh’va en Ra’mah het met jou handel gedryf; hulle het vir jou ware met die beste van allerhande speserye, allerhande edelgesteentes en goud betaal.

23. Haran, Kanneh en `Eden, die handelaars van Sh’va, Ashur en Kilmad het met jou handel gedryf.

24. Hulle het met jou handel gedryf in blou kledingstukke, geborduurde werk en in kleurvolle geweefde tapyte, styf vasgebind met koorde en in skepe van sederhout gelaai.

25. Die skepe van Tarshish was die koeriers vir jou handelsware en jy was vol en het baie sterk geword.

26. Jou roeiers het jou in groot waters gebring; die Oostewind het jou gebreek in die seë.

27. Jou rykdomme, jou artikels, jou handelsware, jou seemanne, jou stuurmanne, die wat jou some regmaak, jou handelaars in handelsware en al jou krygsmanne wat in jou is, saam met jou hele menigte wat in jou is, sal in die diepte van die seë val op die dag van jou omverwerping.

28. Deur die klank van die krete van jou stuurmanne sal die weivelde skud.

29. Almal wat die roeispaan hanteer, die seemanne, al die stuurmanne van die see, sal van hulle skepe afklim; hulle sal op die land staan

30. en hulle sal hul stem oor jou laat hoor en bitterlik huil. Hulle sal stof op hul koppe gooi, hulle sal rondrol in as.

31. Hulle sal hulself bles maak om jou ontwil en rouklere aangord en hulle sal oor jou huil in bitterheid van verstand, wil en emosie en met bitter rou.

32. Hulle sal verder ook in hul huilery ’n klaaglied vir jou ophef en oor jou weeklaag: “Wie is soos Tzor, wat in die see gebou is?

33. Toe jou handelsware uitgekom het uit die seë, het jy baie volke tevrede gestel; met die oorvloed van jou rykdom en jou handelsware het jy die konings van die aarde ryk gemaak.

34. Noudat jy gebroke is deur die seë in die dieptes van die waters; het jou handelsware en jou hele menigte in jou midde geval.

35. Al die inwoners van die kuslande is verskrik oor jou en hulle konings is verskriklik bang; hulle gesigte is besorg.

36. Die handelaars onder die volke spot met jou; jy het verskrik geword en jy sal ophou bestaan, vir ewig.”’”’

Lees volledige hoofstuk Yegezk'el 27