Ou Testament

Nuwe Testament

Yegezk'el 20:32-44 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

32. Wat in julle gedagtes opkom sal nie gebeur nie, wanneer julle sê: ‘Ons sal soos die nasies wees, soos die stamme van die lande, deur hout en klip te dien.’

33. So waar as Ek leef,” verklaar יהוה-God, “Ek sal sekerlik met ’n magtige hand, met ’n uitgestrekte arm en met toorn uitgestort, oor julle Koning wees.

34. Ek sal julle uitbring vanuit die volke en julle versamel vanuit die lande waar julle verstrooi is, met ’n magtige hand, met ’n uitgestrekte arm en deur uitgestorte toorn

35. en Ek sal julle bring in die wildernis van die volke en daar sal Ek van gesig tot gesig met julle in die oordeel tree.

36. Soos wat Ek met julle vaders in die wildernis van Mitzrayim in die oordeel getree het, so sal Ek met julle in die oordeel tree,” verklaar יהוה-God.

37. Ek sal julle onder My staf onderwerp en julle bring in die dissipline van die verbond.

38. Ek sal die rebelle en die wat teen My oortree onder julle uitsuiwer; Ek sal hulle uit die land waar hulle as besoeker bly uitbring, maar hulle sal nie in die land van Yisra’el ingaan nie. So sal julle weet dat Ek יהוה is.

39. Wat julle betref, o huis van Yisra’el,” so sê יהוה-God: “Gaan, dien elkeen sy afgode, maar later sal julle sekerlik na My luister en My afgesonderde Naam (Karakter en Outoriteit) nie langer onteer met julle gawes en julle afgode nie,

40. want op My afgesonderde berg, op die hoë berg van Yisra’el,” verklaar יהוה-God, “daar sal die hele huis van Yisra’el, almal van hulle, My dien in die land; daar sal Ek hulle aanvaar en daar sal Ek julle bydraes en die keur van julle gawes soek, saam met al julle afgesonderde dinge.

41. Ek sal jou aanvaar as ’n strelende aroma wanneer Ek julle uit die volke uitbring en julle bymekaarmaak uit die lande waar julle verstrooi is en Ek sal Myself as afgesonderd tussen julle bewys voor die oë van die nasies

42. en julle sal weet dat Ek יהוה is wanneer Ek julle in die land van Yisra’el bring, in die land wat Ek gesweer het om aan julle vaders te gee.

43. Daar sal julle al jul lewenswyses en al julle dade waarmee julle jul verontreinig het onthou en julle sal julself verafsku in julle eie oë vir al die bose dinge wat julle gedoen het.

44. Dan sal julle weet dat Ek יהוה is as Ek met julle gehandel het ter wille van My Naam (Karakter en Outoriteit) en nie volgens julle bose lewenswyses of julle korrupte dade nie, o huis van Yisra’el,” verklaar יהוה-God.

Lees volledige hoofstuk Yegezk'el 20