Ou Testament

Nuwe Testament

Yegezk'el 20:30-49 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

30. daarom, sê vir die huis van Yisra’el: ‘So sê יהוה-God: “Sal julle julself onteer op die manier van julle vaders en hoereer agter hulle verwerplikhede aan?

31. Wanneer julle jul gawes offer, wanneer julle jul seuns deur die vuur laat gaan, ontreinig julle julself deur al julle afgode tot vandag toe. Sal ek My laat raadpleeg deur julle, o huis van Yisra’el? So waar as Ek leef,” verklaar יהוה-God, “Ek sal My nie deur julle laat raadpleeg nie!Y’ho 24:15-27

32. Wat in julle gedagtes opkom sal nie gebeur nie, wanneer julle sê: ‘Ons sal soos die nasies wees, soos die stamme van die lande, deur hout en klip te dien.’

33. So waar as Ek leef,” verklaar יהוה-God, “Ek sal sekerlik met ’n magtige hand, met ’n uitgestrekte arm en met toorn uitgestort, oor julle Koning wees.

34. Ek sal julle uitbring vanuit die volke en julle versamel vanuit die lande waar julle verstrooi is, met ’n magtige hand, met ’n uitgestrekte arm en deur uitgestorte toorn

35. en Ek sal julle bring in die wildernis van die volke en daar sal Ek van gesig tot gesig met julle in die oordeel tree.

36. Soos wat Ek met julle vaders in die wildernis van Mitzrayim in die oordeel getree het, so sal Ek met julle in die oordeel tree,” verklaar יהוה-God.

37. Ek sal julle onder My staf onderwerp en julle bring in die dissipline van die verbond.

38. Ek sal die rebelle en die wat teen My oortree onder julle uitsuiwer; Ek sal hulle uit die land waar hulle as besoeker bly uitbring, maar hulle sal nie in die land van Yisra’el ingaan nie. So sal julle weet dat Ek יהוה is.

39. Wat julle betref, o huis van Yisra’el,” so sê יהוה-God: “Gaan, dien elkeen sy afgode, maar later sal julle sekerlik na My luister en My afgesonderde Naam (Karakter en Outoriteit) nie langer onteer met julle gawes en julle afgode nie,

40. want op My afgesonderde berg, op die hoë berg van Yisra’el,” verklaar יהוה-God, “daar sal die hele huis van Yisra’el, almal van hulle, My dien in die land; daar sal Ek hulle aanvaar en daar sal Ek julle bydraes en die keur van julle gawes soek, saam met al julle afgesonderde dinge.

41. Ek sal jou aanvaar as ’n strelende aroma wanneer Ek julle uit die volke uitbring en julle bymekaarmaak uit die lande waar julle verstrooi is en Ek sal Myself as afgesonderd tussen julle bewys voor die oë van die nasies

42. en julle sal weet dat Ek יהוה is wanneer Ek julle in die land van Yisra’el bring, in die land wat Ek gesweer het om aan julle vaders te gee.

43. Daar sal julle al jul lewenswyses en al julle dade waarmee julle jul verontreinig het onthou en julle sal julself verafsku in julle eie oë vir al die bose dinge wat julle gedoen het.

44. Dan sal julle weet dat Ek יהוה is as Ek met julle gehandel het ter wille van My Naam (Karakter en Outoriteit) en nie volgens julle bose lewenswyses of julle korrupte dade nie, o huis van Yisra’el,” verklaar יהוה-God.

45. Die woord van יהוה het tot my gekom en gesê:

46. “Seun van ’n mens, draai jou gesig na Teman (regs na die suide) en praat teen Darom (suide) en profeteer teen die woude van die suide

47. en sê vir die woude van die suide: ‘Luister na die woord van יהוה: So sê יהוה-God: “Let op, Ek gaan ’n vuur in jou aan die brand steek wat elke groen boom in jou en elke droë boom sal verteer; die gloeiende vlam sal nie uitgeblus word nie en die hele oppervlakte, van die suide af tot by die noorde, sal daardeur verbrand word.

48. Alle vlees sal sien dat Ek, יהוה, dit aangesteek het; dit sal nie uitgeblus word nie.’””

49. Toe het ek gesê: “Ag, יהוה-God! Hulle sal vir my sê: ‘Jy praat in vergelykende stories.’”

Lees volledige hoofstuk Yegezk'el 20