Ou Testament

Nuwe Testament

Yegezk'el 14:6-21 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

6. Sê daarom vir die huis van Yisra’el: ‘So sê יהוה-God: “Erken en draai weg van julle afgode af en draai julle gesigte weg van al julle verwerplikhede,

7. want enige een uit die huis van Yisra’el of uit die vreemdelinge wat in Yisra’el bly, wat homself van My af afsonder, sy afgode in sy verstand, wil en emosie opstel en die struikelblok tot sy onregverdigheid reg voor sy gesig neersit en dan na die profeet toe kom om My vir homself te raadpleeg, sal Ek, יהוה, teen hom ’n Getuie wees.

8. Ek sal My gesig draai teen daardie man en van hom ’n teken en ’n spreekwoord maak en Ek sal hom afsny uit die midde van My volk. So sal julle weet dat Ek יהוה is.

9. As die profeet egter oortuig word om ’n boodskap vir hom te bring, is dit Ek, יהוה, wat dié profeet oortuig het en Ek sal My hand teen hom uitstrek en hom vanuit die midde van My volk Yisra’el uit vernietig.

10. Hulle sal die straf van hulle oortredinge dra: soos die oortreding van die navraer is, so sal die oortreding van die profeet wees

11. sodat die huis van Yisra’el nie langer van My af wegdwaal en hulle nie langer onrein is deur al hulle oortredinge nie. Dan sal hulle My volk wees en Ek sal hulle God wees,’” verklaar יהוה-God.”Yir 14; Yir 15

12. Toe het die woord van יהוה tot my gekom en gesê:

13. “Seun van ’n mens, as ’n land teen My sondig deur ontrouheid te pleeg en Ek My hand daarteen uitstrek en die voorsiening van brood vernietig, hongersnood teen dit stuur en daaruit afsny beide mens en dier,

14. selfs al was hierdie drie manne, Noag, Dani’el en Iyov, tussen hulle, sou hulle net hulleself deur hulle onpartydige opregtheid kon red,” verklaar יהוה-God.

15. As Ek wilde diere deur die land sou laat trek en hulle ontvolk dit en dit ’n verlatenheid word sodat niemand daar deurgaan as gevolg van die wilde diere nie,

16. al was hierdie drie manne in sy midde, so waar as Ek leef,” verklaar יהוה-God, “sou hulle nie seuns of dogters kon red nie. Hulle alleen sou gered word, maar die land sou verlate wees.

17. Of as Ek ’n swaard sou bring oor daardie land en sê: ‘Laat die swaard deur die land gaan en mens en dier daarvan afsny,’

18. al was hierdie drie manne in sy midde, so waar as Ek leef,” verklaar יהוה-God, “hulle sou geen seuns of dogters red nie, maar hulle alleen sou bevry word.

19. Of as Ek ’n plaag sou stuur teen daardie land en My toorn daaroor uitgiet in bloed, om mens en dier daarvan af te sny,

20. al was Noag, Dani’el en Iyov in hulle midde, so waar as Ek leef,” verklaar יהוהGod, sou hulle geen seun of dogter bevry nie; hulle sou net hulleself bevry deur hul onpartydige opregtheid,”

21. want so sê יהוה-God: “Hoeveel te meer as Ek My vier oordele teen Yerushalayim stuur: die swaard, hongersnood, wilde diere en die plaag, om mens en dier daarvan af te sny!

Lees volledige hoofstuk Yegezk'el 14