Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 6:14-28 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

14. wat pervers is in sy verstand, wil en emosie, wat altyd boosheid beplan en tweedrag saai;

15. daarom sal sy katastrofe skielik kom, skielik sal hy gebroke wees sonder genesing.

16. Daar is ses dinge wat יהוה haat, ja, die sewende is vir Hom verwerplik:

17. trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,

18. ’n verstand, wil en emosie wat bose verbeeldings uitdink, voete wat haastig is om na die boosheid toe te hardloop,

19. ’n valse getuie wat leuens vertel en tweedrag tussen broers saai.

20. My seun, hou jou vader se opdragte en verwerp nie die wet van jou moeder nie.

21. Bind dit stewig vas in jou verstand, wil en emosie en hang dit om jou nek.

22. As jy loop, laat hulle jou volg, laat hulle by jou wees; beskerm hulle sodat hulle jou beskerm en as jy wakker word, oordink hulle,Ps 119:105

23. want die opdragte is ’n lamp en die instruksies ’n lig en die teregwysing wat dissiplineer is die pad tot lewe,

24. om jou te bewaar teen ’n slegte vrou, van die gevlei van die tong van ’n vreemde vrou.

25. Moenie haar skoonheid in jou hart begeer, of jou in ’n strik laat vang deur haar oë of jou laat gevange neem deur haar ooglede nie,

26. want die voorkoms van ’n hoer is so verleidelik soos ’n brood en die egbreekster jag ’n kosbare lewe.

27. Kan iemand vuur in sy skoot dra en sy klere nie verbrand nie?

28. Kan iemand op warm kole loop en sy voete nie verbrand nie?

Lees volledige hoofstuk Spreuke 6