Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:35-54 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

35. Ga’al, die seun van `Eved, het uitgegaan en by die ingang van die stadspoort gaan staan en Avimelekh en al die manne wat by hom was, het uit die hinderlaag uit opgestaan.

36. Toe Ga’al die mense sien sê hy vir Z’vul: “Kyk, daar kom mense van die bergtoppe af,” maar Z’vul sê vir hom: “Jy sien die skaduwee van die berge asof hulle mense is!”

37. Ga’al het weer gepraat en gesê: “Kyk, daar kom mense van die hoogste deel van die land af en een deel kom uit die rigting van die eik van die towenaar.”

38. Toe sê Z’vul vir hom: “Waar is jou grootpratery nou waarmee jy gesê het: ‘Wie is Avimelekh dat ons hom sou dien?’ Is dit nie die manne wat jy verag het nie? Gaan nou uit en veg teen hulle!”

39. Toe gaan Ga’al uit voor die leiers van Sh’khem en veg teen Avimelekh.

40. Avimelekh het hom agtervolg en hy het voor hom uit gevlug en baie is gewond en het geval tot by die ingang van die poort.

41. Toe het Avimelekh in Arumah gebly, maar Z’vul het Ga’al en sy familielede uitgedryf sodat hulle nie in Sh’khem kon bly nie.

42. Dit het die volgende dag gebeur dat die mense uitgegaan het in die veld en dit is aan Avimelekh vertel.

43. Hy het sy manne gevat en hulle in drie groepe verdeel en in die veld lê en wag; toe hy sien dat die mense uit die stad uitkom, staan hy op teen hulle en verslaan hulle.

44. Toe het Avimelekh en die groep wat by hom was, ingestorm en gaan staan by die ingang van die stadspoort; die ander twee groepe het almal wat in die veld was, bestorm en hulle verslaan.

45. Avimelekh het daardie hele dag teen die stad geveg en die stad ingeneem en die mense wat daarin was, doodgemaak; toe het hy die stad afgebreek en dit met sout besaai.

46. Toe al die leiers van die toring van Sh’khem dit hoor, gaan hulle in die binneste kamer van die tempel van die god van verbond (el berith) in.

47. Dit is aan Avimelekh vertel dat al die leiers van die toring van Sh’khem saam vergader is.

48. Avimelekh en al die manne wat by hom was, klim op die berg Tzalmon en Avimelekh vat ’n byl in sy hand en kap ’n boomtak af van die bome, lig dit op en sit dit op sy skouer. Toe sê hy vir die manne wat by hom was: “Wat julle my sien doen het, maak gou en doen net so.”

49. Al die manne het ook elkeen sy tak afgekap en Avimelekh gevolg en dit op die binnekamer gegooi en die binnekamer bo-op hulle aan die brand gesteek sodat ook al die mense van die Sh’khemstoring, omtrent ’n duisend manne en vroue, gesterf het.

50. Toe het Avimelekh na Tevetz gegaan en teen Tevetz gekamp en dit ingeneem,

51. maar in die middel van die stad was daar ’n sterk toring en al die manne en vroue en al die leiers van die stad het daarheen gevlug en hulleself toegesluit en bo-op die dak van die toring geklim.

52. Avimelekh het na die toring toe gekom en daarteen geveg en die ingang van die toring genader om dit met vuur te verbrand,

53. maar ’n sekere vrou het die boonste meulsteen op die kop van Avimelekh gegooi en sy skedel verbrysel.

54. Toe roep hy gou na die jongman, sy wapendraer en sê vir hom: “Trek jou swaard en maak my dood sodat dit nie van my gesê sal word: ‘’n Vrou het hom doodgemaak nie’.” Die jongman het hom deurboor en hy is dood.

Lees volledige hoofstuk Rigters 9