Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:22-32 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

22. Avimelekh het drie jaar lank oor Yisra’el geheers.

23. Toe het God ’n bose gees gestuur tussen Avimelekh en die manne van Sh’khem en die manne van Sh’khem het valslik gehandel met Avimelekh

24. sodat die geweld teen die sewentig seuns van Yeruba’al sou uitkom en hulle bloed op hul broer Avimelekh, wat hulle vermoor het, gelê mag word en op die manne van Sh’khem wat sy hande versterk het om sy broers te vermoor.

25. Die manne van Sh’khem het manne in hinderlae teen hom opgestel bo-op die berge en almal beroof wat op die pad by hulle verbykom en dit is aan Avimelekh vertel.

26. Ga’al, die seun van `Eved, het met sy familielede gekom en oorgetrek na Sh’khem en die manne van Sh’khem het hulle vertroue in hom geplaas.

27. Hulle het uitgegaan in die veld en hulle wingerde afgeoes, uitgetrap en ’n fees gehou en hulle het in die huis van hulle god ingegaan en geëet en gedrink en Avimelekh gevloek.

28. Toe sê Ga’al, die seun van `Eved: “Wie is Avimelekh en wie is Sh’khem dat ons hom sou dien? Is hy nie die seun van Yeruba’al en is Z’vul nie sy luitenant nie? Dien die manne van Hamor, die vader van Sh’khem, maar waarom moet ons hóm dien?

29. Was hierdie volk maar onder my outoriteit, dan sou ek Avimelekh verwyder het!” Vir Avimelekh het hy gesê: “Vermeerder jou weermag en kom uit!”

30. Toe Z’vul, die heerser van die stad, die woorde van Ga’al, die seun van `Eved, hoor, het sy woede opgevlam.

31. Hy het boodskappers misleidend na Avimelekh gestuur om te sê: “Let op, Ga’al, die seun van `Eved en sy familielede het na Sh’khem gekom en let op, hulle steek die stad teen u op.

32. Nou, daarom, staan in die nag op, u en die manne wat by u is en lê en wag in die veld.

Lees volledige hoofstuk Rigters 9