Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:20-34 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

20. maar indien nie, laat daar dan vuur uitgaan uit Avimelekh en die manne van Sh’khem en Beit-Millo verteer en laat daar vuur uitgaan uit die manne van Sh’khem en Beit-Millo en Avimelekh verteer.”

21. Toe het Yotam ontsnap en weggevlug en na Be’er gegaan en daar gebly as gevolg van Avimelekh, sy broer.

22. Avimelekh het drie jaar lank oor Yisra’el geheers.

23. Toe het God ’n bose gees gestuur tussen Avimelekh en die manne van Sh’khem en die manne van Sh’khem het valslik gehandel met Avimelekh

24. sodat die geweld teen die sewentig seuns van Yeruba’al sou uitkom en hulle bloed op hul broer Avimelekh, wat hulle vermoor het, gelê mag word en op die manne van Sh’khem wat sy hande versterk het om sy broers te vermoor.

25. Die manne van Sh’khem het manne in hinderlae teen hom opgestel bo-op die berge en almal beroof wat op die pad by hulle verbykom en dit is aan Avimelekh vertel.

26. Ga’al, die seun van `Eved, het met sy familielede gekom en oorgetrek na Sh’khem en die manne van Sh’khem het hulle vertroue in hom geplaas.

27. Hulle het uitgegaan in die veld en hulle wingerde afgeoes, uitgetrap en ’n fees gehou en hulle het in die huis van hulle god ingegaan en geëet en gedrink en Avimelekh gevloek.

28. Toe sê Ga’al, die seun van `Eved: “Wie is Avimelekh en wie is Sh’khem dat ons hom sou dien? Is hy nie die seun van Yeruba’al en is Z’vul nie sy luitenant nie? Dien die manne van Hamor, die vader van Sh’khem, maar waarom moet ons hóm dien?

29. Was hierdie volk maar onder my outoriteit, dan sou ek Avimelekh verwyder het!” Vir Avimelekh het hy gesê: “Vermeerder jou weermag en kom uit!”

30. Toe Z’vul, die heerser van die stad, die woorde van Ga’al, die seun van `Eved, hoor, het sy woede opgevlam.

31. Hy het boodskappers misleidend na Avimelekh gestuur om te sê: “Let op, Ga’al, die seun van `Eved en sy familielede het na Sh’khem gekom en let op, hulle steek die stad teen u op.

32. Nou, daarom, staan in die nag op, u en die manne wat by u is en lê en wag in die veld.

33. In die oggend, sodra die son op is, moet u vroeg opstaan en teen die stad aanstorm en let op, wanneer hy en die manne wat by hom is, teen u uittrek, sal u met hom doen net waartoe u in staat is.”

34. Avimelekh en al die manne wat by hom was, het in die nag opgestaan en in vier groepe gelê en wag teen Sh’khem.

Lees volledige hoofstuk Rigters 9