Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:1-10 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Avimelekh, die seun van Yeruba’al, het na Sh’khem, na die familie van sy moeder gegaan en hy het met hulle en met die hele geslag van sy moeder se familie gepraat en gesê:

2. “Praat, nou, voor die ore van al die leiers van Sh’khem: wat is vir julle beter: dat sewentig man, al die seuns van Yeruba’al, oor julle heers, of dat een man oor julle heers? Onthou ook dat ek julle vlees en bloed is.”

3. Sy moeder se familie het namens hom al hierdie woorde ten aanhore van al die leiers van Sh’khem gepraat en hulle was geneig om Avimelekh te volg, want hulle het gesê: “Hy is ons familie.”

4. Hulle het vir hom sewentig sikkels silwer uit die huis van Ba’al-B’rit gegee, waarmee Avimelekh waardelose en ligsinnige manne gehuur het en hulle het hom gevolg.

5. Toe het hy na die huis van sy vader gegaan, in `Ofrah en sy broers, die seuns van Yeruba’al, sewentig man, op een klip vermoor, maar Yotam, die jongste seun van Yeruba’al, het oorgebly, want hy het weggekruip.

6. Al die manne van Sh’khem en die hele Beit-Millo het saam vergader en Avimelekh gaan koning maak by die eikeboom van die pilaar wat by Sh’khem is.

7. Toe hulle dit vir Yotam vertel, het hy gegaan en op die top van berg G’rizim gaan staan en sy stem opgelig en uitgeroep en so het hy vir hulle gesê: “Luister na my, manne van Sh’khem sodat God na julle kan luister.

8. Eendag het die bome gegaan om ’n koning oor hulle te salf en vir die olyfboom gesê: ‘Heers oor ons!’

9. Die olyfboom het egter vir hulle gesê: ‘Sou ek my vettigheid opgee waarmee hulle gode en mense vereer en oor die bome gaan swewe?’

10. Toe sê die bome vir die vyeboom: ‘Kom jy, heers oor ons!’

Lees volledige hoofstuk Rigters 9