Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 14:2-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

2. Hy het teruggegaan en sy vader en moeder vertel: “Ek het ’n vrou uit die dogters van die F’lishtyne in Timnah gesien; daarom dan, kry haar vir my as vrou.”

3. Toe sê sy vader en moeder vir hom: “Is daar onder die dogters van jou familie, of onder ons hele volk, nie ’n vrou dat jy gaan om ’n vrou uit die onbesnede F’lishtyne te vat nie?” Shimshon sê egter vir sy vader: “Kry haar vir my, want sy lyk goed vir my.”

4. Sy vader en moeder het egter nie geweet dat dit van יהוה kom nie, want Hy het ’n geleentheid gesoek teen die F’lishtyne. In daardie tyd het die F’lishtyne oor Yisra’el geheers.

5. Toe het Shimshon saam met sy vader en moeder afgegaan na Timnah en tot by die wingerde van Timnah gekom en let op, ’n jong leeu het brullend op hom afgestorm.

6. Die Gees van יהוה het magtig oor hom gekom sodat hy dit verskeur het soos ’n mens ’n jong bokkie verskeur alhoewel hy niks in sy hand gehad het nie, maar hy het nie vir sy vader en moeder vertel wat hy gedoen het nie.

7. Hy het afgegaan en met die vrou gepraat en sy het vir Shimshon goed gelyk.Lev 5:2

8. Toe hy later teruggegaan het om haar te gaan haal, het hy uitgedraai om na die karkas van die leeu te kyk en let op, daar was ’n swerm bye en heuning in die karkas van die leeu.

9. Hy het die heuning in sy hande afgeskraap en al etende aangeloop. Toe hy by sy vader en moeder kom, het hy vir hulle gegee en hulle het geëet, maar hy het hulle nie vertel dat hy die heuning uit die liggaam van die leeu uitgeskraap het nie.

10. Toe het sy vader na die vrou toe afgegaan en Shimshon het ’n feesmaal daar gehou, want die jongmanne het die gebruik gehad om dit te doen.

11. Toe hulle hom sien, het hulle dertig vriende gebring om by hom te wees.

12. Toe sê Shimshon vir hulle: “Laat my nou vir julle ’n raaisel voorlê; as julle dit uitvind en vir my vertel gedurende die sewe dae van die feesmaal, dan sal ek vir julle dertig linne klede en dertig stelle klere gee.

13. As julle my egter nie kan vertel nie, dan moet júlle my dertig linne klede en dertig stelle klere gee.” Hulle sê vir hom: “Lê maar jou raaisel voor sodat ons dit kan hoor.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 14