Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 21:9-23 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

9. Moshe het ’n koper slang gemaak en dit op ’n paal gesit en so was dit dat as ’n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koper slang, hy geleef het.

10. Die seuns van Yisra’el het weggetrek en kamp opgeslaan in Ovot.

11. Hulle het weggetrek van Ovot af en kamp opgeslaan in Iyei-Ha’avarim, in die wildernis oorkant Mo’av, aan die oostekant.

12. Van daar het hulle weggetrek en kamp opgeslaan in die vallei van Zered.

13. Daarvandaan het hulle weggetrek en kamp opgeslaan oorkant die Arnon, in die wildernis wat strek van die grens van die Emoriete, want die Arnon is die grens van Mo’av, tussen Mo’av en die Emoriete;

14. daarom word dit gesê in die Boek van die Oorloë van יהוה: ‘Vahev by Sufah, die spruite van die Arnon

15. en die hang van die spruite wat na die streek van Ar afloop en leun teen die grens van Mo’av.’

16. Daarvandaan het hulle na Be’er getrek. Dit is die put waar יהוה vir Moshe gesê het: “Maak die mense bymekaar dat Ek vir hulle water kan gee.”

17. Toe het Yisra’el hierdie lied gesing: “Spring op, O put! Sing almal daarvoor!

18. O put, wat die leiers gegrawe het, wat die leiers van die volk gegrawe het, met hulle outoriteit, met hulle stawwe!” Vanaf die wildernis het hulle na Mattanah gegaan

19. en van Mattanah na Nagali’el en van Nagali’el na Bamot

20. en van Bamot, in die vallei wat in die land van Mo’av lê, na die top van Pisgah, wat oor die wildernis uitkyk.

21. Yisra’el het boodskappers gestuur na Sigon, die koning van die Emoriete en gesê:

22. “Laat my deur jou land trek. Ons sal nie wegdraai in die lande of in die wingerde nie; ons sal nie die water van die putte drink nie; ons sal op ‘Die Koning se Hoofpad’ hou tot ons deur jou gebied getrek het.”

23. Sigon het Yisra’el egter nie toegelaat om deur sy gebied te trek nie. Sigon het al sy mense bymekaargemaak en uitgegaan teen Yisra’el in die wildernis en toe hy by Yahatz kom, het hy teen Yisra’el geveg.

Lees volledige hoofstuk Numeri 21