Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 11:1-14 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Die volk het geword soos mense wat kla van swaarkry voor die ore van יהוה en toe יהוה dit gehoor het, het Sy woede ontbrand. Die vuur van יהוה het onder hulle gebrand en sommige aan die kant van die kamp verteer.

2. Die volk het daarom na Moshe uitgeroep en Moshe het ingetree by יהוה en die vuur is geblus.

3. Die naam van die plek is Tav’erah genoem omdat die vuur van יהוה tussen hulle gebrand het.

4. Die gemengde bevolking wat onder hulle was, het gierige begeertes gehad. Die seuns van Yisra’el het weer gehuil en gesê: “Wie sal vir ons vleis gee om te eet?

5. Ons onthou die vis wat ons vrylik in Mitzrayim kon eet, die komkommers, die waatlemoene, die preie, die uie en die knoffel,

6. maar nou is ons eetlus opgedroog; daar is glad niks om na te kyk nie, behalwe net die ‘man hu’ voor ons oë.”Eks 16:4,15; Ps 105:40; Yog 6:32

7. Die ‘man hu’ was soos koljandersaad en dit het gelyk soos boomgom.

8. Die volk het rondgegaan en dit bymekaargemaak en op maalstene gemaal of in vysels gestamp, dit in panne gekook en koeke daarvan gemaak. Die smaak daarvan was soos die smaak van koeke gebak in olie.

9. Wanneer die dou snags op die kamp val, het die ‘man hu’ saam met dit geval.

10. Moshe het die volk hoor huil, regdeur hulle families, elkeen by die deur van sy tent en die woede van יהוה het grootliks ontbrand en Moshe was ontevrede.

11. Moshe sê vir יהוה: “Waarom het U U kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen guns in U oë gevind nie dat U die las van hierdie hele volk op my lê?

12. Het ék al hierdie mense verwek? Of het ék geboorte aan hulle gegee dat U vir my sê: ‘Dra hulle, soos ’n versorger die suigeling kind dra, in jou drasak na die land wat U aan hulle vaders met ’n eed beloof het?’

13. Waar moet ek vleis kry om vir al hierdie mense te gee? Want hulle huil by my en sê: ‘Gee vir ons vleis sodat ons kan eet.’

14. Ek is nie in staat om al hierdie mense alleen te dra nie, want hulle is vir my te swaar.

Lees volledige hoofstuk Numeri 11