Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 25:21-38 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

21. Dan beveel Ek My seën oor julle in die sesde jaar en dit sal ’n oes genoeg vir drie jaar oplewer.

22. In die agtste jaar moet julle saai en van die ou opbrengs eet tot die negende jaar toe; totdat die opbrengs hiervan inkom, moet julle die ou oes eet.

23. Die grond moenie vir altyd verkoop word nie, want die land is Myne, want julle is vreemdelinge en besoekers by My.Gen 47:9

24. In die hele land van julle besitting, moet julle herstel van besit van die grond toelaat.

25. As een van jou broers arm word en van sy besitting verkoop en sy vergoeder, wat familie is, kom, moet hy dit wat sy broer verkoop het, kan terugkoop,

26. of as iemand geen vergoeder het nie, maar dit kan bekostig en genoeg vind vir die terugkoping,

27. moet hy die jare bereken dat dit verkoop is en die jare wat oorbly moet hy aan die man, aan wie hy verkoop het, teruggee en dan na sy besitting teruggaan,

28. maar as hy nie in staat is om dit terug te koop nie, moet die verkoopte goed in die hand van die koper bly tot die jubeljaar toe en in die jubeljaar moet dit vry word en hy moet na sy besitting teruggaan.

29. As iemand ’n huis in ’n ommuurde stad verkoop, kan hy dit terugkoop binne ’n volle jaar nadat dit verkoop is; binne ’n volle jaar mag hy dit terugkoop,

30. maar as dit nie teruggekoop word voordat ’n hele jaar verby is nie, moet die huis wat in die ommuurde stad is, vir altyd die eiendom van sy koper bly in sy geslagte; dit sal nie vry word in die jubeljaar nie.

31. Die huise van die dorpe wat geen muur rondom het nie moet egter soos die veld van die land gereken word. Hulle mag teruggekoop word en sal in die jubeljaar vry word.

32. Op die stede van die Leviete en die huise in die stede wat in hulle besit is, moet daar ’n ewige reg tot terugkoping wees vir die Leviete.

33. As iemand van die Leviete af die huis terugkoop, moet die huis wat verkoop is, in die stad van sy besitting, in die jubeljaar vry word, want die huise in die stede van die Leviete is hulle besitting onder die seuns van Yisra’el.

34. Die algemene veld om hulle stede mag nie verkoop word nie, want dit is ’n ewige besitting vir hulle.

35. As een van jou broers by jou arm word en sy land word wankelrig, moet jy hom ondersteun, soos ’n vreemdeling of ’n besoeker sodat hy by jou kan leef.

36. Jy moet geen rente of wins van hom vat nie, maar jy moet jou God respekvol vrees sodat jou broer by jou kan leef.

37. Jy mag nie jou geld vir hom op rente gee nie of vir hom jou kos teen ’n wins gee nie.

38. Ek is יהוה, julle God, wat julle uit die land Mitzrayim uitgelei het om vir julle die land Kena’an te gee en om julle God te wees.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 25