Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 24:10-23 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. Die seun van ’n Yisra’elitiese vrou, wie se man ’n Mitzrayiet was, het uitgegaan tussen die seuns van Yisra’el in en die seun van die Yisra’elitiese vrou en ’n Yisra’elitiese man het met mekaar baklei in die kamp

11. en die seun van die Yisra’elitiese vrou het boos gepraat teen die Karakter en Outoriteit (Naam) van יהוה en dit gevloek en hulle het hom na Moshe gebring. Die naam van sy moeder was Shlomit, die dogter van Dibri, van die stam van Dan.

12. Hulle het hom toegesluit totdat die wil van יהוה aan hulle verklaar kon word.

13. יהוה het met Moshe gepraat en gesê:

14. “Vat hom wat gevloek het buitekant die kamp en laat almal wat hom gehoor het, hulle hande op sy kop sit en laat die hele vergadering hom stenig.

15. Jy moet met die seuns van Yisra’el praat en sê: ‘Wie ook al sy God vloek, sal sy sonde dra

16. en wie ook al boos praat teen die Karakter en Outoriteit (Naam) van יהוה, moet tot die dood toe tereggestel word; die hele vergadering moet hom met klippe stenig. Die besoeker, net soos die kind van die land, as hy boos praat teen יהוה, moet hy doodgemaak word.Yog 8:59

17. Elkeen wat ’n mens doodslaan, moet tereggestel word tot die dood.

18. Wie ook al ’n stuk vee doodslaan, moet vergoeding doen daarvoor; lewe vir lewe.

19. As iemand sy naaste ’n gebrek veroorsaak, soos hy gedoen het, net so moet ook aan hom gedoen word:

20. breuk vir breuk, oog vir oog, tand vir tand, dieselfde gebrek wat hy aan ’n mens veroorsaak het, moet ook aan hom gedoen word.

21. Wie ook al ’n stuk vee doodslaan, moet daarvoor vergoeding gee, maar hy wat ’n mens doodslaan, moet doodgemaak word.

22. Julle sal dieselfde standaard hê vir die besoeker en vir die kind van die land, want Ek is יהוה, julle Magtige God.’”

23. Moshe het met die seuns van Yisra’el gepraat en hulle het die een wat gevloek het buitekant die kamp uitgevat en hom gestenig. So het die seuns van Yisra’el gedoen soos יהוה Moshe beveel het.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 24