Ou Testament

Nuwe Testament

Hoshea 2:1-14 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. (2:3) Sê vir julle broers: “Ammi (My volk),” en vir julle susters: “Rugamah (Jammer gekry).”

2. (2:4) Twis met julle moeder, twis, want sy is nie my vrou nie en Ek is nie haar Man nie en laat sy haar hoerery van haar gesig verwyder en haar owerspel van tussen haar borste af,

3. (2:5) anders sal Ek haar kaal afstroop en haar blootstel soos op die dag van haar geboorte. Ek sal haar ook maak soos ’n wildernis, soos ’n woestyn en haar van dors laat sterf.

4. (2:6) Ek sal ook geen liefdevolle omgee vir haar kinders hê nie, want hulle is kinders van hoerery,Yeg 16:19

5. (2:7) want hulle moeder het die hoer gespeel; sy wat met hulle bevrug was, het skandelik opgetree, want sy het gesê: ‘Ek sal agter my minnaars aangaan, wat vir my brood en my water gee; my wol en my vlas, my olie en my drank;’

6. (2:8) daarom, let op, Ek sal haar pad met dorings toemaak en ’n muur teen haar bou sodat sy nie haar pad kan vind nie.Deut 24:1-4

7. (2:9) Sy sal agter haar minnaars aanloop, maar hulle nie inhaal nie en sy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie, dan sal sy sê: ‘Ek sal na my eerste man toe teruggaan, want dit was toe vir my beter as nou,’

8. (2:10) want sy weet nie dat dit Ek is wat aan haar die koring, die mos en die olie gegee het en haar oorlaai het met silwer en goud, wat hulle vir Ba’al gebruik het, nie;

9. (2:11) daarom sal Ek My koring terugvat met oestyd en My nuwe wyn in sy seisoen. Ek sal ook My wol en My vlas wegvat wat haar naaktheid bedek,

10. (2:12) dan sal Ek haar onsedelikheid ontbloot voor die oë van haar minnaars en niemand sal haar uit My hand red nie.

11. (2:13) Ek sal ook ’n einde maak aan al haar vrolikheid, haar feeste, haar Nuwemane, haar Shabbatte en al haar feestelike byeenkomste.

12. (2:14) Ek sal haar wingerde en haar vyebome vernietig, waarvan sy gesê het: ‘Hierdie is my loon wat my minnaars my gegee het’ en Ek sal dit tot ’n woud maak en die wilde diere van die veld sal dit opeet.

13. (2:15) Ek sal haar straf vir die dae van die Ba’als, toe sy offers aan hulle geoffer het en haar met haar oorringe en juweliersware versier en agter haar minnaars aangeloop het sodat sy My vergeet het,” verklaar יהוה.

14. (2:16) “Let daarom op, Ek sal haar lok, haar in die woestyn inbring en sagkens met haar praat,

Lees volledige hoofstuk Hoshea 2