Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 47:1-10 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Yosef het gekom en aan Farao verslag gegee en gesê: “My vader en my broers en hulle kleinvee en beeste en alles wat hulle besit, het gekom uit die land Kena’an en let op, hulle is nou in die land Goshen.”

2. Hy het vyf man vanuit sy broers saamgevat en hulle aan Farao voorgestel.

3. Farao sê vir sy broers: “Wat is julle beroep?” Hulle antwoord Farao: “U diensknegte is herders van kleinvee, ons, sowel as ons vaders.”

4. Hulle sê ook vir Farao: “Ons het gekom om as besoekers in die land te bly, want u diensknegte het geen weiding vir hulle kleinvee nie omdat die hongersnood in die land Kena’an swaar is; daarom nou, laat asseblief u diensknegte in die land Goshen woon.”

5. Farao het met Yosef gepraat en gesê: “Jou vader en jou broers het na jou toe gekom.

6. Mitzrayim lê voor jou oop; laat jou vader en jou broers in die beste deel van die land bly; laat hulle in die land Goshen bly. As jy enige manne onder hulle ken wat die vermoë het, stel hulle dan aan as hoof herders oor my vee.”

7. Yosef bring sy vader Ya’akov in en stel hom aan Farao voor. Ya’akov het Farao geseën.

8. Farao sê vir Ya’akov: “Hoeveel is die dae van jou lewensjare?”

9. Ya’akov het Farao geantwoord: “Die dae van die jare van my verblyf as besoeker is honderd en dertig jaar. Min in getal en vol boosheid was die dae van my lewensjare en hulle het nie die dae van die lewensjare van my vaders, gedurende die dae van hulle verblyf as besoekers, bereik nie.”Lev 25:23

10. Ya’akov het Farao geseën en van Farao af weggegaan.

Lees volledige hoofstuk Genesis 47