Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 45:12-24 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

12. Let op, julle oë en die oë van my broer, Binyamin, sien dat dit my mond is wat met julle praat.

13. Julle sal my vader vertel van al my eer en oorvloed in Mitzrayim en van alles wat julle gesien het en julle sal gou maak en my vader afbring hierheen.”

14. Hy het sy broer Binyamin om die nek geval en gehuil en Binyamin het op sy nek gehuil.

15. Meer nog, hy het al sy broers gesoen en oor hulle gehuil en daarna het sy broers met hom gepraat.

16. Die verslag daarvan is in die huis van Farao gehoor: dat Yosef se broers gekom het en dit was goed in die oë van Farao en van sy diensknegte.

17. Farao het vir Yosef gesê: “Sê aan jou broers: ‘Doen dit, laai julle diere en gaan weg na die land Kena’an

18. en gaan haal julle vader en julle huisgesinne en kom na my toe, dan sal ek julle die goeie van Mitzrayim gee en julle sal die vet van die land eet.’

19. Jy is nou beveel; doen dit: vat vir julle uit Mitzrayim waens vir julle kinders en julle vroue en bring julle vader en kom.

20. Julle hoef geen spyt te hê oor julle besittings nie, want die beste van die hele Mitzrayim is julle s’n.”

21. Die seuns van Yisra’el het toe so gedoen en Yosef het vir hulle waens gegee volgens die bevel van Farao en vir hulle voorsiening gegee vir die reis.

22. Hy het aan hulle almal, man vir man, ’n stel nuwe klere gegee, maar vir Binyamin het hy drie honderd stukke silwer en vyf stelle klere gegee.

23. Hy het ook aan sy vader gestuur: tien donkies, gelaai met die goeie dinge van Mitzrayim en tien donkiemerries, gelaai met graan, brood en kos vir sy vader se reis.

24. So het hy sy broers weggestuur, hulle het vertrek en hy het vir hulle gesê: “Moenie bang word op die pad nie.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 45